Hoofstuk 1

Die sewejarige Gainsford-tweeling is tussen twaalfuur die nag en tweeuur die oggend vermoor. Dit is waarom doktor Renata Malan nóú hier is, eenuur in die nag, alleen. Sy wil sien wat die moordenaar gesien het, voel wat die slagoffers gevoel het.

Sy staan met toe oë in die skuur se wye deur, luister na die naggeluide buite die gebou. Hierdie toneel is ongekend vredig. Dit is net die geil reuk van droë bloed wat ʼn verhaal vertel van die groteske daad wat hier gepleeg is.

Stefan Coetsee, vennoot, vriend, vertroueling, haat hierdie deel van haar werkswyse. Solank sy haar wapen en haar hond by haar het, sit hy sy oogklappe aan, maar hy hou nog steeds nie van hierdie nagtelike uittogte nie. Dat hy nie veel van ʼn sê in die saak het nie, het hulle sewe jaar as vennote in Malan & Coetsee Privaat Ondersoeke hom geleer.

Die moordenaar het die twee seuntjies in die donkerte hierheen gebring. Het hy dit gedoen nadat hy die mense in die opstal vermoor het, of toe hulle nog slapend in hulle beddens was? Het hy die kinders dalk verby die lyke in die sitkamer laat stap op pad uit na die skuur toe? Die grusaamheid in daardie sitkamer het geharde polisiemanne glo laat braak.

Hoekom die ander in die huis vermoor, in hulle beddens, en die tweeling hier?

Daar is ongeveer honderd en vyftig meter tussen die opstal en die skuur. Wat het tussen die kinders en die moordenaar gebeur op pad na die skuur toe? Het hy hulle verseker dat alles oukei gaan wees? Hulle gedreig? Het hy hulle in ʼn kar gelaai en hierheen gebring, of het hy hulle laat stap?

Gelukkig is dit September, darem nie meer so koud in die Bloemfontein-distrik nie. Die irrasionele gedagte laat haar sug. Asof koue vir enigiemand iets sou beteken op daardie nag.

En toe hy hier by die skuur aankom, het hy die ligte aangeskakel?

Hy moes. Óf dit óf ʼn flitslig. Dit was so te sê donkermaan en die lug was Vrydagnag vol swaar wolke. Dit sou vir hom binne-in die skuur te donker gewees het om te doen wat gedoen moes word. Hy moes handskoene aangehad het. Daar is geen vingerafdrukke op die skakelaar gevind nie.

Maar ʼn flitslig sou sy een hand uitgeskakel het. Hoe kon hy twee kinders beheer met een hand? Het hy ʼn wapen in sy ander hand gehad en hulle daarmee in bedwang gehou? Was hy dalk bekend aan hulle? Hulle sou tog seker nie sonder weerstand saam met ʼn onbekende hierheen gekom het nie?

Sy laat gly haar hand oor die growwe muur totdat sy die skakelaar vind. En saam met die fluoorligte wat ry op ry begin brand, vou die werklikheid van dít wat hier afgespeel het oop.

Die vloer is geverf met die bloed van onskuldiges, die hooibale bespikkeld daarvan.

Sy stap nader aan die bale terwyl sy die vingerafdrukpoeier wat aan haar vingers kleef, afvee aan haar jeans. Sy bestudeer die inhoud van die skuur. Dit is wat die moordenaar gesien het toe hy hier instap.

Die banale dinge wat ʼn mens kan verwag staan in groepe. Kruiwaens, goiingsakke volgestop met wat ook al, hooibale, sakke kunsmis. In die verste hoek staan ʼn stokou trekker waarvan die rooi verf bleek gebleik is deur die Vrystaatse son. Dit word waarskynlik om sentimentele redes aangehou. Sy het verby die Therons se indrukwekkende versameling moderne John Deere-implemente gery op pad na die skuur toe.

Volgens die misdaadtoneelfoto’s en sketse het die twee seuntjies in die middel van die skuur langs mekaar gelê. In ʼn onvoltooide vierkant wat deur hooibale gevorm is. Net hulle kaal voete het uitgesteek onder ʼn geblomde duvet wat oor hulle gegooi is. Die plaasbestuurder het hulle vroeg Saterdagoggend só ontdek. Hulle bloed het onder die duvet uitgeloop tot amper by die byl wat bokant hulle koppe neergesit is.

Hulle het hande vasgehou.

Elke kind het een massiewe kopwond gehad, die kenmerkend gepunte bloedspatsels in rye oor die hooibale is ʼn aanduiding van hoe die byl opgelig is ná elke kaphou, hoe die bloed wat daaraan gekleef het, afgewerp is.

Sy hurk ʼn entjie van die plek af waar die seuns gelê het. Die moordenaar het waarskynlik skuldig gevoel oor hierdie twee kinders se dood, daarom is hulle toegegooi onder die beddegoed. Het hy die hele ent teruggeloop na die opstal toe net om ʼn duvet te gaan haal, of het hy dit by hom gehad toe hy die kinders skuur toe gebring het, wetende wat hy met hulle gaan doen?

Die keuse om ʼn byl as moordwapen te gebruik is betekenisvol. Dit dui op gevoelens van haat, van die begeerte om moue op te rol, om van naby af te moor, om te sien, te voel, te proe aan die dood van hierdie kinders. En tog – daar is skaamte. ʼn Gevoel van weersin in die daad ná die tyd? Hoekom?

Renata sluit haar oë weer en laat sak haar kop. Volgens die plaasbestuurder het die Gainsford-tweeling by die Therons se seuntjie Marnus kom oorslaap. Die ma en pa sal hulself in die maande en jare wat kom sinneloos verwyt omdat hulle toegelaat het dat hulle kinders juis op daardie Vrydagaand by die Therons gaan kuier.

Jakes Gainsford is briesend, bitter. Althea Gainsford huil net. Al is dit net twee dae ná die moorde, kontrakteer hy Malan & Coetsee Privaat Ondersoeke reeds om die moordenaar aan te keer. Hy het gevra vir net tien minute alleen saam met die skuldige, ʼn reusebonus belowe as hy die geleentheid gegun word. Sy vrou Althea kruip glo onder ʼn kombers weg en huil soos ʼn kind.

Renata stap stadig deur die skuur. Weg van die plek waar die kinders gelê het. Wat het die moordenaar gedoen nadat hy hulle doodgekap het? Het hy eers in die plek rondgestap om te kyk of hier ook iets is wat die moeite werd is om te steel?

Grootkoos Theron was ʼn netjiese man. Al die gereedskap staan in ordelike rye teen die agterste muur, alles skoongewas. Ses hooivurke. Ses grawe. Ses tuinvurke. Ses sae. Vyf byle. Ses pare waterstewels.

Sy tel weer.

Net vyf byle. Volgens die dossier is die Gainsford-kinders met een van die Therons se byle vermoor. Dis dan hier waar die moordenaar die wapen gekry het. Die Theron-familie is volgens die nadoodse verslag met ʼn panga doodgekap, iets wat die Therons glo nie op die plaas gebruik nie. Die moordenaar bring dus ʼn wapen saam; ʼn panga. Tog gebruik hy ʼn byl wat in die skuur staan om hierdie kinders te vermoor.

Waarom? Waar is die panga in daardie stadium? Nog in die huis? Waarom?

Was hier twee aanvallers? Een wat die mense in die huis vermoor het terwyl ʼn ander een die Gainsford-kinders hier in die skuur kom doodmaak het? Waarom het die tweede moordenaar nie sy eie wapen saamgebring nie?

Renata skakel die ligte af en stap by die skuur uit, dankbaar vir die vars lentelug ná die bedompige reuke in die skuur. Sy los die deure oop, soos sy dit gekry het, en stap na die reuseherdershond wat aan die ander kant van die misdaadtoneellint vir haar sit en wag.

“Dis maar ʼn lelike ding dié, Ramsay,” fluister sy vir hom en krap agter sy ore. Die gekap van sy stert teen die droë gras word vinniger.

“Hak,” sê sy vir die hond en hy neem dadelik sy plek langs haar linkerbeen in. Barend Benade, bonkige oudpolisieman, het die hond spesiaal vir haar opgelei en Ramsay is ʼn dodelike bewys van die man se vaardigheid. Renata se nagmerries is deesdae genadiglik nie meer so vol van daardie nag toe Ramsay haar lewe moes red tydens die Verhoef-saak nie, maar die dankbaarheid sal altyd daar wees.

Sy draai in die rondte, bestudeer die omgewing.

Twee sementspore lei na die geplaveide area wat om die opstal strek, die huis gehurk in die gloed van spreiligte. Buite die kring van die ligte is alles pikdonker. Ook rondom die skuur is spreiligte opgerig. Langs die gebou kan sy ʼn ruigte riete sien staan, stamme bleek in die kunsmatige lig, maar verder aan is daar net donkerte.

Volgens Jaun Tiquin, senior misdaadintelligensiebeampte by Malan & Coetsee, was daar Vrydagnag net oor die vyf persent maanverligting. Nie dat dit veel van ʼn verskil kon maak nie. Die wolke het toe die meeste van die geringe maanlig versper. Volgens die maankalender is die verligtingspersentasie vannag glo nul punt vier persent. Vrydagnag se liggehalte moes soortgelyk gewees het.

Was die oortreder dapper genoeg om in die helder gloed van die huis se spreiligte tot by die skuur te stap? Dom genoeg? Of het hy die stikdonkerte aangedurf deur ʼn ompad te vat? Die alarmsisteem is skadeloos gestel. Waarom is dieselfde nie met die spreiligte gedoen nie? Het die persoon geweet dis onwaarskynlik dat iemand daardie tyd van die nag naby Mooiplaats se opstal sou wees?

Sy laat vir Ramsay buite die voordeur sit en sluit die veiligheidshek en die voordeur oop. Toe stap sy by die huis in en maak albei deure agter haar toe. Die veiligheidshek sluit vanself met ʼn sagte klikgeluid.

Die nuwe provinsiale polisiekommissaris, Oscar Solomon, het seker gemaak dat daar vir haar afdrukke van die huissleutels gemaak word, spesiaal vir vannag. Malan & Coetsee Privaat Ondersoeke se ongekende witbroodjiestatus het seker te make met die verleentheid wat hulle die polisie gespaar het toe die Ashoopmoordenaarsaak in Julie tot ʼn einde gekom het. Malan & Coetsee het geen krediet vir die oplos van die saak aanvaar nie. Dit was alles die polisie se harde werk, was die konsensus. Sedertdien is geen hulp van die polisie se kant af te veel moeite nie en burokrasie word onder die elegante mat in Solomon se kantoor ingevee. Dis sy eie mat, soos die rooshoutlessenaar, liasseerkabinette en Persiese mat op die vloer. Geen staatsdiensmeubels vir Solomon nie.

Sy pogings om vir Malan & Coetsee op ʼn vaste basis as subkontrakteurs aan te stel sal waarskynlik vir ʼn wyle voortduur en sodra hy ophou probeer, sal die obstruksie en burokrasie van voorheen ongetwyfeld terugkeer.

Maar Malan & Coetsee werk nie vir staatsinstansies nie. Staat beteken politiek en politiek het geen plek in die oplos van misdade nie.

In die huis is die stilte neerdrukkend. Dit word net verbreek deur die getik-tik-tik van die een of ander groot horlosie. Die spreiligte se gloed wat deur die sitkamerdeur val, verlig die voorportaal so dat sy haar nou in halfskemer bevind.

Op die misdaadtoneelskets het iemand geskryf dat die gordyne toegetrek was toe die eerste polisielede op die toneel aankom. Die misdaadtoneeltegnici het dit glo oopgetrek nadat die liggame verwyder was. Op soek na leidrade.

Sy maak haar oë toe. Die geur van lelies hang soet in die lug. En iets soos suurlemoen. Vloerpolitoer? Sy tree terug en leun met haar rug teen die voordeur. Die glas van die gebreekte venster langs die voordeur knars onder haar skoene. Volgens die polisieverslag is dit daar waar die oortreder toegang tot die huis verkry het. ʼn Lang loodglasvenster, een van twee weerskante van die voordeur.

Volgens die sekuriteitsfirma is die alarmsisteem gedeaktiveer deur die telefoonlyn af te sny. Volgens die sekuriteitsprotokol moes hulle kennisgewing van die inbraak gekry het deur die ondersteunende selfoonstelsel, maar daar is waarskynlik gebruik gemaak van ʼn blokkeerder wat die selfoonsein direk na die selfoonbasis sou terugstuur. Die firma sou nooit die sein ontvang het nie.

Sy skud haar kop. Sewe maklike stappe om so ʼn blokkeerder te bou, met komponente wat in enige hardewarewinkel is. En volledige instruksies op die internet.

Volgens die misdaadtoneelskets is die sitkamer aan haar regterhand, ʼn snoekerkamer op linkerkant, die trappe wat lei na die tweede verdieping regoor die snoekerkamer se deur. Die gastebadkamer, studeerkamer en woonkamer is verder aan links, terwyl ʼn groot eetkamer en kombuis met ʼn kuierhoekie regs lê. Al vyf slaapkamers is op die tweede verdieping, elk met sy eie badkamer, ʼn sofa en drie gemakstoele.

Anders as in die skuur, is die atmosfeer in die huis swaar. Dit voel asof sy omring word van ʼn tweede teenwoordigheid. Iets donkers, bedrukkends.

Sy skud haar kop ongeduldig. Bly by die feite, Renata.

Maar op hierdie nag sukkel sy.

Daar was tye waarin hierdie huis sekerlik gelééf het. Die klanke van mense wat lag, gesels, televisie kyk, na musiek luister. Nou is die hartklop van die huis uitgeruk, vervang deur iets onheilspellends.

Sy maak haar oë oop en hurk by die gebreekte venster. Waarom mense in hierdie gevaarlike tye vensters sonder diefwering insit, bly ʼn raaisel.

Sy haal die klein laserflitslig uit die skouersak wat skuins oor haar lyf gedrapeer is en skakel dit aan. Toe stap sy in by elke vertrek op die grondvloer, Stadig, rustig. Sy sal die sitkamer voorlopig vermy. Haar toer deur die moordhuis sal daar eindig.

Al die gordyne is oopgetrek, sodat die Therons se manjifieke besittings soos stukke in ʼn museum voor haar uitgestal staan, verlig deur die gloed van spreiligte. Alles van die beste, van die duurste. Alles uiters netjies.

Die misdadigers was nie morsig in die huis nie. Wel, nie in die tradisionele sin van die woord nie. Waar is die omgegooide meubels, die lukrake vernietiging van eiendom? Waar is die tekens dat die misdadigers gesoek het na iets om te steel? Uitgetrekte laaie, skilderye wat afgehaal of weggeskuif is op soek na ʼn kluis? Was hierdie oortreders te ordentlik om op die matte te ontlas of te urineer, van die huismense se kos te eet en van hulle drank te drink? Hulle het tog oorgenoeg tyd gehad ná die moorde.

Vreemde rooftog dié. Want dit is wat die SAPD se bevinding is. ʼn Rooftog wat handuit geruk het. Niks soos ʼn oorvloed adrenalien en opgekropte haat om pangahoue te laat neerreën nie. En niks ontketen haat soos afguns nie. Vermorsel hierdie mense wat meer het as wat hulle ooit kan gebruik terwyl die plaaswerkers ʼn kilometer verder in armoede van die een betaaldag tot die ander leef. Vernietig hulle.

Stewelafdrukke in bloed lei van die trappe af tot in die kombuis. Renata volg dit tot reg voor die wasbak in die opwaskamer. Hier het iemand sy hande gestaan en was voordat hy omgedraai en weer uitgestap het. Om mense met ʼn panga dood te kap is morsige werk.

Daar is rye bloedspore deur die kombuis tot by die agterdeur. Volgens die dossier het iemand die agterdeur probeer skoonvee, maar daar was nog bloedvlekkies onder die handvatsel. Die twee Amerikaanse vegboelterriërs is dood buite die agterdeur gekry. Vergiftig.

Sy stap deur die luukse kombuis. Die rak waar al die sleutels gehang het, is hoog teen die muur naby die ligskakelaar.

Dit is net die stewelspore in bloed wat sê wat hier aangegaan het. Die tafel in die ontbythoekie is gedek. Vier papborde en lepels op oranje plekmatjies, graankoshouers, ʼn suikerpot en ʼn wit koffiebeker voor elke plekmatjie.

Volgens die dossier was daar ʼn pot vars filterkoffie op die toonbank toe die polisie opdaag. Die outomatiese koffiemaker het op die aangeduide tyd aangeskakel sodat die gesin se koffie kon reg wees wanneer hulle opstaan. Snaaks hoe iets so doodgewoons skielik makaber kan voel.

Renata gaan staan voor die yskas en hou die flitslig se straal op die groot dubbeldeure. Daar is die gewone foto’s van die gesin. Prentjies in vetkryt en verf, Marnus se naam regs onder geskryf. Daar is ook ʼn vel papier met noodnommers op die yskas, vasgesit met yskasmagnete wat soos roomyse lyk. Hospitaal, brandweer, kontreiwag, polisie, Jakes Gainsford se selfoonnommer, sy vrou sʼn, die naam en nommer van ʼn man met die naam Johann Heyneman. Daar is yskasmagnete in die vorm van letters van die alfabet op die deur. Iemand het begin om ʼn sin te bou: My naam is … Daaronder is die res van die letters ʼn warboel.

By die stewelspore hurk sy en lig met die flits daaroor. Al die spore is ewe groot as sy so met die oog skat. Een oortreder? Sy twyfel nou al sterk daaraan.

Sy volg die bloedspore tot waar dit verdwyn tussen die hordes ander wat van die trappe af lei tot in die sitkamer. Toe eers stap sy by die trappe op na die slaapkamers.

In elke slaapkamer, behalwe die kamer waar die Gainsford-broers geslaap het, is die toneel dieselfde. Die beddens is swart van die bloed, met gepunte bloedspatsels in geboogde rye teen die mure. Bloedsmeersels wys waar die slagoffers van die beddens afgetrek en na die sitkamer toe gesleep is. Daar is hulle in ʼn makabere parodie van huislikheid op die banke sitgemaak, asof hulle saamkuier.

Die bloedsmeersels en stewelspore het die teorie laat ontstaan dat die moordenaar eers na Grootkoos en Rieta Theron se kamer toe is om hulle dood te maak. Skakel die belangrikste bron van potensiële weerstand eerste uit. Dit maak tog seker sin. Maar dit sou beteken dat hulle verby al die ander kamers moes stap om by die laaste slaapkamer op hierdie vloer uit te kom. Hoe het hulle geweet in watter kamer Grootkoos en Rieta slaap? Het hulle by elke kamer ingestap om te kyk of dit die pa en ma se kamer is? Sou hulle werklik die kans waag om deur een van die ander inwoners gesien te word? Of het hulle presies geweet waar die egpaar slaap?

Behalwe Rieta Theron is almal waarskynlik doodgemaak terwyl hulle geslaap het. Samuel Akande het in sy verslag geskryf dat Rieta se een hand byna middeldeur gekap is. Soos iemand wat haar hand gelig het om te keer dat ʼn pangahou haar kop vermorsel.

Die slaapkamer wat die Gainsford-broers daardie aand gedeel het, lyk soos sewejarige seuns se kamers seker maar elke oggend lyk. Daar lê speelgoed op die vloer; karretjies en bordspeletjies. Twee pare grys pantoffels lê weerskante van die dubbelbed. Die beddegoed is deurmekaar, die een kussing met sy geblomde kussingsloop van die bed afgegooi.

Renata lig die beddegoed op. Daar is net lakens en ʼn dun kombers op die bed; geen duvet nie. Het die moordenaar die duvet saamgeneem, wonder sy weer, of het hy ná die moorde teruggekom en die duvet kom haal sodat hy die kinders daarmee kon gaan toegooi?

Twee van die vyf slaapkamers is netjies, onaangeraak. Die Therons se dogter Elize het voorheen in die een slaapkamer geslaap en hulle oudste kind Bernard in die ander. Volgens die dossier woon Elize nou saam met haar vriend Wouter op ʼn kleinhoewe buite die stad en Bernard het ʼn huis in Bloemfontein.

In die hoofslaapkamer is die groot mat oor die vloerkluis weggeskuif en staan die kluisdeur nog oop.

Al die Therons se wapens is gesteel. Ook die sowat dertig duisend rand wat Grootkoos in die kluis gehou het vir noodgevalle. Rieta Theron se juwele is weg. Daar was heelwat diamante, pêrels en goud. Volgens die Therons se versekeraar is die juwele beraam op etlike honderde duisende rande. Al Rieta se kostuumjuwele is nog onaangeraak in die juwelekissie op haar spieëltafel. Die oortreder weet wat die verskil is tussen waardevolle juwele en speelgoed.

Renata gaan staan voor die venster en bestudeer die toneel voor haar. Wat het die moordenaar gesien toe hy hier instap? Hoe donker was dit?

Sy trek die gordyne toe, skakel die flits af en gaan staan in die kamerdeur.

Die dik gordyne met hul ewe dik binnegordyne verseker dat die spreiligte se gloed buite bly. Die kamer is stikdonker. Sy kan die wit van die hemelbed se gordyne net-net uitmaak.

Dus: die oortreder staan hier, panga in die hand. Hy kan nie sien wie in hierdie bed lê nie, maar hy is eerste by die ander kamers in om te gaan kyk wie daar lê en slaap. Dit moet dus die Theron-egpaar se kamer wees.

Renata stap na die bed toe; haar skoene met die sagte sole maak geen geluid op die teëls nie en sy weet sy is onsigbaar. Sy stap stadig na die bed toe, niks anders as die hemelbed se wit gordyne kan in die verstikkende donkerte onderskei word nie. Aan watter kant van die bed het Grootkoos geslaap? Want hy moes tog sekerlik eerste uitgeskakel word.

Die wond aan Rieta se hand kan dalk beteken dat sy wakker geword het toe haar man vermoor word. Dat sy orent gekom, probeer het om ʼn hou af te weer wat onmiddellik in haar rigting geswaai is toe sy orent kom.

Wat het Rieta Theron gesien in daardie laaste oomblikke? Dalk het sy in die donkerte net op klank staatgemaak om af te lei wat gebeur. Die suisgeluid van die panga deur die lug. Die klanke van metaal op haar slapende man se vlees, op been. Dalk het sy die bloed geruik en geweet.

In drie van die slaapkamers het die tegnici glo blikkies gekry met ʼn laag fyn as op die bodem. ʼn Ricoffy-blikkie in die hoofslaapkamer, ʼn Koo-blikkie waarin daar eens boontjies in tamatiesous was in Grootkoos se skoonma se kamer en nog ʼn Ricoffy-blikkie in Marnus se slaapkamer. In die gastekamer waar die tweeling geslaap het, was daar niks van die aard nie.

Volgens die speurder se notas word ʼn konkoksie van hiënastert en kruie in die blikkies gebrand om inwoners te bedwelm. Udonsi lwempisi, word die mengsel glo genoem.

Udonsi lwempisi. Waarom word ʼn Zoeloe-moetiemengsel hier in die hartjie van die Vrystaat gebruik? Volgens Renata se vlugtige navorsing is die mite rondom udonsi lwempisi nog groter: die polisie sal ʼn oortreder glo nie raaksien as hy in ʼn vertrek was waar udonsi lwempisi gebrand is nie. Geen wonder boosdoeners hou daarvan nie.

Met die swaar stilte singend in haar ore stap sy stadig by die trappe af, sitkamer toe. Dit is ʼn groot vertrek. Op die bank wat na die groot westelike venster kyk, het die moordenaar vir Grootkoos en Rieta laat sit. Grootkoos se hand was oor Rieta sʼn. Dit het gelyk asof hulle sit en hande vashou.

Rieta se ma het op die bank langs hulle sʼn gesit, haar een been oor die ander en daar was leë wynglase op die koffietafeltjies weerskante van die banke. Klein Marnus is op die enigste ander bank in die vertrek uitgestal. Dit was anders met hom. Die moordenaar het hom só neergesit dat dit lyk asof hy lê en slaap, albei hande onder sy wang saamgevou.

Renata gaan hurk langs die een bank, maak haar oë toe en luister na die stilte.

Hoekom het jy die mense nie in hulle beddens gelos nie? Hoekom al die moeite doen om hulle teen die trappe af te sleep tot hier? Wat wil jy daarmee sê?

En waarom het jy dinge so anders gedoen met die Gainsford-kinders?

Geleidelik verander die stilte. Sy frons, luister na die bykomende klank wat die nag inkleur.

Dit is Ramsay, besef sy. Hy grom daar buite.

Sy staan op. Hier is iemand anders behalwe sy en die hond. Sy haal die 9 mm.-Beretta uit die skouersak en druk die veiligheidsknip terug.

Haar hand bewe toe sy die veiligheidshek oopsluit en die voordeur stadig oopstoot.

Adrenalien.