Madelein Rust se skrywersloopbaan skop af toe een van haar kortverhale, Joy, opgeneem word in Bateleur Boeke se skolemarkbundel In ‘n neutedop. Daarna waag sy haar hand aan die skryf van romantiese kortverhale, en haar twee pogings in dié genre, Tango in die Kuberruim en Skarlakenvrou, verskyn in Huisgenoot. Een van haar ander kortverhale, Die dag toe oom Willem geval het, verskyn kort daarna in Maskew Miller Longman se Literary Awards Edition skolemarkbundel, Sussie Veer is dood en ander verhale.

Rust se debuutroman, Die 13de kaart, verskyn in Julie 2014 op die rakke en verskyn kort daarna op Nielsen se internasionale topverkoperlys. Dit word benoem vir ‘n ATKV Woordveertjietoekenning vir spanningsliteratuur.

Haar tweede roman, Monstersaad, verskyn in Julie 2015, en oes groot lof in van resensente sowel as lesers. Ook dié boek verskyn op Nielsen se topverkoperlys.

In Julie 2016 verskyn Bloedlyn, ‘n opvolg op Monstersaad. Die boek bevind hom tussen Graffiti Boeke en Exclusive Books se topverkopers binne die eerste week na sy verskyning.

Elkeen van Rust se daaropvolgende boeke (Moordhuis [2017], Lam ter Slagting [2018] en Kanker Schmanker! [2019] verskyn op die Nielsen Topverkoperlys, met Moordhuis en Lam ter Slagting wat benoem word vir Woordveertjie toekennings.

Madelein woon in Johannesburg saam met haar man, Jaun, haar seun, Nico en twee katte. Haar dogter, Tanya, is ʼn wetenskaplike wat in Bloemfontein woon. As sy nie skryf nie, lewer Madelein motiveringspraatjies, verslind misdaadfiksie en historiese romans en beproef nuwe restaurante.