Hoofstuk 1

Die vrou lê soos ʼn vuilwit komma op die grou westelike hang van die doleriet koppie. Haar liggaam is die oog van die orkaan, ʼn stil, kalm episentrum omarm deur krioelende polisielede.

Nader aan haar, binne-in die slordige geel sirkel van die misdaadtoneellint, is die speurders en die misdaadtoneeltegnici. Uitverkorenes wat mag druk en stoot en staar en bespiegel. Afgestompte wesens vir wie sy maar net nog ʼn misdaadtoneel is.

Doktor Renata Malan byt op haar tande.

Dis tog nie asof die meisie omgee nie.

Selfs al het die siel wat daardie skraal liggaam bewoon het hier getalm sou dit onaangeraak gebly het deur die banaliteite van hierdie koue dag, hierdie donker uur.

Mens is ʼn siel. Jy het ʼn liggaam. Sy herhaal die woorde oor en oor in haar kop, beskerming teen die grusaamheid wat haar dae vul.

Daar is werk om te doen.

Terwyl sy haar swart leerhandskoene aantrek, bestudeer sy die toneel.

Roet verdonker plek-plek die dolerietplate en in die skeure tussen die klip is swartgebrande plantstompies, getuies van die brand wat die vorige week ʼn hoofweg deur die droë plantegroei op die koppie gevreet het.

Flint. Roet. Alles ruik daarna.

Die oggendson aksentueer die gryswit van die dooie vrou se bra en broekie teen die agtergrond van doleriet en roet, vul die kurwes van haar lyf met skaduweehalfmane en reghoeke. Haar kop is weggesteek in ʼn kokon van roetbesmeerde maskeerband. ʼn Oorgewig man in ʼn kameelkleurige jas sit gehurk by daardie toegedraaide kop, sy instrumentetas oop langs hom. Samuel Akande, staatspatoloog.

“Be careful,” maan die massiewe konstabel met die groot, plat neus en hy punt sy ken in die rigting van haar Christian Louboutin stewels met die hoë hakke. As hy maar weet van die ongoddelikke plekke waar sy al met hoër hakke ingeneuk het.

Die man bekyk haar op en af met afgetrekte mondhoeke. En sy sien haarself deur sy oë. Wit ontwerpersjas en dáárdie skoene, swart hare in ʼn bolla laag in haar nek, pêrels in haar ore, grimering baie presies aangewend. Sy verstaan die kyk wat hy haar gee. Wat soek ʼn rich jong bitch hier in die boendoes by ʼn misdaadtoneel?

Die konstabel se naam is Zuma volgens die naamplaatjie op sy bors.

“Thanks, Zuma. Not to worry.” En sy glimlag soet vir hom.

Sy kies ʼn ompad om by die toneel uit te kom, daar waar dit nie heeltemal so steil is nie, die reuk van brand en Bloemfontein se bitter winter skerp in haar neus.

Sy gaan staan met haar hande op haar heupe en meet die toneel met haar oë. Daar is plekke waar die roetlaag versteur is. Die slagoffer is waarskynlik van die wandelpaadjie daar op die kruin gegooi en sy moes gerol het tot waar sy nou lê, op ʼn klein plato. Van hier af sien mens die restaurantarea, die dam en die groen en geel van die Vrystaase Nasionale Botaniese Tuin.

“Renata!” Die staatspatoloog hef sy kolos van ʼn lyf op, sy glimlag breed en sy swart oë blink agter sy brillense. “Uiteindelik! Ek het gewonder wanneer hulle julle gaan inkry om te kom help. Jy het my dag gemaak. Miskien kry die saak nou koers.”

“Hallo, Samuel,” glimlag sy. Hy lyk soos ʼn groot bruin beer so met die kunspels van die jaskraag wat sy blinkronde gesig omraam. Die lieflike Afrikaans wat uit sy mond kom verras haar soms nog steeds. Hy is ná sy Nigeriese ma se dood deur haar wit werkgewers aangeneem, grootgemaak met sy een been in wit Afrika en die ander in swart Afrika.

Sy lig die lint op en stap onderdeur, net so dankbaar om hom te sien. Samuel Akande is ʼn groot man in meer as lyf, die beste forensiese patoloog saam met wie sy nog gewerk het. Hy is een van die min wat slagoffers by naam ken. Vir hom is daardie nommer op die etiket om die groottoon nooit ʼn oorledene se identiteit nie.

Sy druk haar hande in haar jassakke en gaan staan langs Akande, kyk saam met hom na die roetgestreepte, verwoeste liggaam. “Ons dierbare provinsiale kommisaris het my vanmiddag net so ná een gebel en gevra om te help, vir my gesê ons het met ʼn reeks te doen. Hy het nogal angstig geklink.”

“Ja, en ek neem hom nie kwalik nie. Die nasionale kommisaris druk hom glo ongenadig vir resultate.”

“Ek het nog niks oor die moorde in die pers gesien nie.”

Akande knik. “Generaal Solomon het besluit om dit eers dig te hou. Soos ek dit verstaan is hy bang die gemeenskap raak paniekerig. Dis werklik grusaam.”

“Eerder paniekerig en veiligheidsbewus as houtgerus en dood,” sê sy. “Dis ʼn jammerte dat hy nou eers besluit het om hulp van buite te kry.”

Die provinsiale kommissaris ken die polisie se beperkings, weet maar te goed hoeveel hulpbronne Malan & Coetsee het, hoe diep die firma se sakke is. Hulle bystand met vorige hoëprofielsake het Oscar Solomon goed laat lyk. Malan & Coetsee is nie regtig veel gepla met lofgesange in die media nie, so hulle verdra Solomon se verklarings waarin hy die Ernstige en Geweldsmisdaadeenheid die lof toeswaai oor hulle flink oplossings. Oscar Solomon, politieke dier.

Knarsende voetstappe laat haar omkyk. Dis Stefan Coetsee. Vennoot, vertroueling, vriend, oud-kinderhuiskameraad, op pad terug van ʼn onderhoud met ʼn verdagte in ʼn bedrogsaak.

Hy is in sy gebruiklike winterwerksdrag, ʼn swart pak klere, wit hemp en swart das; die baard wat hy begin groei het sy enigste toegewing teen die winterkoue. ʼn Face warmer noem hy dit. Die grys haartjies wat hier en daar uitgekom het, is vir hom ʼn bron van groot satisfaksie. Dit laat hom soos ʼn ringkop lyk, meen hy. Geen jas en handskoene vir hom nie. Dis asof die man net nooit koud kry nie. Sy het hom al in ʼn T-hemp en kortbroek gesien op dae waarop sy self die nodigheid gevoel het om ʼn jas bo-oor ʼn trui te dra. En mens sou verwag dat hy soms sou verkoue raak. Dit gebeur nie.

Sy dik bos bruin hare staan alkante toe. Soos dit maar elke dag die geval is. Elkeen van die hare op sy kop het klaarblyklik ʼn wil van sy eie. Hy is lank en breedgeskouer, toring bo haar en Akande uit, sy glimlag wyd toe hy met die patoloog bladskud. Die geur van English Blazer hang vir ʼn oomblik in die lug voordat die reuk van die verbrande veld weer oorneem.

“Samuel,” sê hy en hy pomp Akande se hand energiek, lekkerkry in sy stem. “Long time no see. Hoe gaan dit?”

“Altyd goed, dankie ou Stefan. Net jammer dat ons altyd onder hierdie omstandighede moet ontmoet.” En Akande kyk spytig na die liggaam by hulle voete.

“Ja. Fok, shame. Arme girl. Ek hoor dis ʼn reeks.”

“Ja. Soos ek vroeër telefonies vir generaal Solomon gesê het, alles dui daarop dat hierdie ons sesde slagoffer in die reeks is. Die kop wat so toegedraai is met maskeerband is natuurlik die eerste aanduiding. Dit is ʼn ongewone modus operandi. Verder is daar die feit dat al die liggame hier in die tuin weggegooi is, dieselfde tekens van marteling; wurgmerke om die nek, gewrigbeserings en ligatuurmerke om die enkels, nek en gewrigte, veelvuldige hematome ...” Hy sug swaar, sy gesig stroef.

Renata verstaan sy swaarmoedigheid maar te goed. Haar opleiding in forensiese sielkunde het haar die teorie van boosheid geleer, maar niks kan mens regtig voorberei vir die ongenaakbare werklikheid daarvan nie. Dis daardie manifestasie van boosheid wat haar deesdae weer nagmerries laat kry. Miskien moet sy tog maar weer met haar skrowwe psigiater gaan gesels om perspektief te verkry. “Die tydsduur tussen die moorde?”

“So bietjie meer as ʼn maand.” Akande skud sy kop stadig. “Ek het ná die tweede geval reeds geweet ons het hier met ʼn reeks te doen. Ons provinisale kommissaris was nie beïndruk toe ek aanbeveel dat ons julle hulp inroep nie. Hy het my ʼn paar loopbaangedrewe dreigemente toegeslinger wat my laat besef het hoe onvanpas my raad is. Ek is tog maar net ʼn staatspatoloog.”

“Dis sommer kak,” grom Stefan. “Moes hy nou wragtig wag tot ses mense dood is voordat hy sy gat in rat kry?” Hy gluur na Renata. “Dink jy hy hou hom hardegat omdat ons nie ʼn vaste kontrak wil teken nie?”

Sy knik. “Ons laaste gesprek oor die hele konsultasiekwessie het op ʼn suur noot geëindig. Hy dring aan op daardie kontrak.”

Stefan grinnik. “Want dan sal dit nie so kak lyk as ons misdade namens die polisie oplos nie.”

Akande kyk fronsend van Stefan na Renata en dan weer terug. “Maar die belangrikste is tog seker om te verhoed dat nóg mense sterf, nie waar nie? Professionele ego behoort mos nie in te meng daarmee nie?”

“In ʼn ideale wêreld, ja.” Renata sak af op haar hurke en bestudeer die skraal liggaam. Die slagoffer het geboog op haar sy te lande gekom, haar ruggraat soos ʼn string gebedekrale onder haar vel. Die sigbare kant van haar liggaam is bloupers, liggroen en geel gevlek en daar is merke wat soos vingermerke lyk op haar boarm en bobeen. Dun strepies oral oor die liggaam. Op sommige plekke vaag, op ander plekke het bloed deur die vel gedring. “Hierdie strepies? Wat sou jy sê het dit veroorsaak? Dit lyk soos sweepmerke.”

“Dit was my bevinding by die vorige slagoffers ook, ja. Dalk eerder ʼn implement soos ʼn sambok.”

Stefan stap stadig om die liggaam. “Is die vorige slagoffers seksueel aangerand?”

Akande knik. “Met ʼn voorwerp, onder andere. ʼn Onafgewerkte silindriese houtvoorwerp. Dennehout. Die voorwerp was nie op enige van die tonele nie, maar daar was splinters ... die dames het swaar gesterf. Ernstige sagteweefsel skade op hulle gesigte, rûe, bobene en gluteale ... wel, hulle boude. En dit was ʼn uitgerekte storie. Die oortreder moet werklik sadisties wees.”

ʼn Wellusmoordenaar. Die aanduidings van sadisme en penetrasie met ʼn voorwerp is goeie indikasies.

Renata kyk op, skreef haar oë teen die winterson wat futloos agter Akande in die bleek lug hang. “Uitgerek? Praat ons hier van ure of dae?”

“Dae. Ongeveer drie dae, te oordeel aan die wisselende grade van verkleuring van die hematome. Die histologie en weefselverslae van die vorige vyf slagoffers het die tydsduur bevestig.”

Sy beduie na die maskeerband. “Ek neem aan hulle is dood aan versmoring?”

“Verbasend genoeg nie. Die maskeerband is nadoods aangebring. Die oorsaak van dood was in elke geval massiewe hooftrauma. Daar is soveel weefselskade aan die dames se gesigte dat ons ʼn forensiese beeldhouer moes inkry om modelle van die oorledenes se gesigte te maak. Hy is nog besig daarmee.”

“Waarom nie sommer ʼn forensiese kunstenaar inkry om sketse te maak nie?”

Akande glimlag. “Die generaal probeer beslis iemand boontoe beïndruk met sy metodes. Hy het glo eers probeer om van daardie 3D gesigrekonstruksie sagteware vir die eenheid aan te koop, maar dit was buitensporig duur. Die volgende stap was om ʼn beeldhouer in te kry. Enige iets om uit te staan bo die ander provinsiale kommissarisse.” Hy lig sy hand met die ligpienk palm. “Ek is jammer,” sê hy sag. “Dit was onwaardig. Daar is geen bewyse dat die generaal nie in goeie trou handel nie. Ek vermoed hierdie saak raak my dieper as wat ek gedink het.”

Sy staan op. “So, nie een van die vorige slagoffers is nog uitgeken nie?”

Hy skud sy kop. “Ongelukkig nie. Boonop is elkeen van die slagoffers in hul onderklere gevind. Daar was geen juweliersware of ander kledingstukke wat uitkenning sou kon vergemaklik nie. Geen tatoe’s nie. Geen prosteses met reeksnommers nie. Niks.”

“Fok, dis nou ʼn bummer.” Stefan druk sy hande deur sy hare, woel dit nog meer deurmekaar.

“Ek ... stem saam met jou, Stefan. Waar begin mens sonder ʼn identiteit? En ons het nie eens ʼn primêre toneel nie, net die weggooiplekke.” Akande sak steunend af op sy hurke en knip sy tas toe. “Die slagoffers kon ook nog nie positief geïdentifiseer word as enige van die vermiste persone op die nasionale databasis nie. Daar is vingerafdrukke geneem om te help met identifikasie, maar dit neem geweldig lank vir die resultate om vrygestel te word. Maande en maande. En julle het nie soveel tyd nie.”

“Gots,” sê Stefan. “Die piet het ʼn moerse lot moeite gedoen om ons werk so moeilik as moontlik te maak. En hy klink na een van die sieker fokkers.” Hy krap aan sy ken, sy vingers girtsend deur sy baard. “Weet ons wanneer sy hier gedump is?”

Akande beur orent, ʼn fyn lagie sweet op sy bolip ten spyte van die koue. “Te oordeel na die fiksasie van hipostase sou ek sê laat laasnag.”

Renata vou haar arms om haar lyf teen die ysige windjie wat skielik om die koppie gewaai kom. “Jou voorlopige bevinding oor tyd van dood?”

“Haar lewertemperatuur is net so oor die twintig grade Celsius. Gepaardgaande met die mate van rigor mortis is ek van mening dat sy gisteraand tussen ses en nege dood is.”

“Die oortreder los ons met bitter min,” sê sy. “Wie het op die liggaam afgekom?”

“Dit was blykbaar die man daar anderkant.” En Akande beduie in die rigting van ʼn ouer boeppensman in ʼn dik kakiekleurige baadjie wat met twee van die polisiemanne staan en gesels, ʼn verkyker om sy nek en ʼn kakiehoed met lang oorflappe op sy kop.

“Nou ja, ons sal gou met hom gesels en dan is dit kantoor toe. Daar is al heeltemal te veel tyd verby. JT het seker al begin grou vir addisionele inligting.”

Akande glimlag. “Sê vir hom groete en weereens dankie. Hy het my nou die dag gehelp met ʼn probleem wat ek met my rekenaar gehad het, het dit binne minute uitgesorteer. Julle is gelukkig om vir Jaun Tiquin te hê.”

“Die beste informasietegnologiespesialis in Suid-Afrika,” beaam Renata. En die beste kuberkraker, maar dit sê sy nie hardop nie. Daar is ʼn ongeskrewe reël dat daardie woord nooit in Malan & Coetsee se kantore gebruik word nie, al kraak Tiquin hóé. Sy metodes werk. Geweldenaars word aangekeer en dis tog seker al wat behoort te tel.

Akande se gesig versober. “Julle het net meer as ʼn maand, Renata.” Hy pleit met sy oë. “En ek sal verkies om nooit weer een van hierdie man se slagoffers op my tafel te hê nie.”

Sy sit haar hand op sy arm. “Jy weet ons sal ons heel beste doen.” Sy sal hom eerder nie herinner dat die afkoelperiode tussen hierdie soort oortreding gewoonlik korter word nie. Ook nie dat die vlak van geweld gewoonlik eskaleer nie.

Hy sit sy hand oor hare en druk dit sag. "No man chooses evil because it is evil; he only mistakes it for happiness." Hy kyk af in haar oë. “ʼn Vrou met die naam Mary Wollstonecraft het dit gesê. En dis een van die onstellendste dinge wat nog ooit gesê is, dink ek.” Die staatspatoloog se mondhoeke is afgebuig, sy gesig grys terwyl hy afkyk na die verwoeste liggaam by sy voete.

Mary Wollstonecraft was reg. Boosheid is die dood, aangetrek en opgetooi in die vervulling van siek fantasieë.