Hoofstuk 11: die nag van die mes

Dis laf om jou teen pyn te verset.

Pyn is dom; dit weet nie dat jy probeer veg nie en daarom neem dit nie uit respek die wyk nie. Die beste ding om te doen wanneer mens pyn ervaar, is om te ontspan en die golwe daarvan te ry. Dit het ek al op die moeilike manier geleer.

Die pyn in my borsbeen is erg, asof ek ʼn kop-aan-kop botsing met ʼn trein gehad het. Ek vertel vir Jaun van die pyn, eers net vaagweg bewus daarvan dat hy langs my bed sit en my hand vashou. Dis nog half moeilik om te bepaal hoe die golwe van hierdie pyn werk. Ek meet dit, besef dit is hooggety en probeer om my liggaam te laat ontspan. Net voordat ek vir die soveelste keer weer aan die slaap raak, hoor ek hoe hy vir iemand vra of hulle vir my iets vir die pyn sal gee.

Met die volgende wakkerwordslag sien ek dat Jaun besig is om teksboodskappe te stuur. Toe ek my oë oopmaak, vou hy dadelik my hand in syne toe, die foon vergete. Hy wil weet hoe ek voel en ek vertel hom dat die pyn al baie minder is, wonder vir ʼn oomblik waarom dit nou juis my borsbeen is wat so seer is.

Het ek toe ʼn mastektomie gehad, vra ek hom toe ek besef waarom ek nou eintlik in die teater was. Ek wil so half onthou dat iemand vir my gesê het ek het wel een gehad, maar ek het dit waarskynlik net gedroom.

Hy weet nie, skud hy sy kop.

Het niemand hom gesê nie?

Nee.

Het hy niemand gevra nie?

Nee. Hy was te bang, wou nie hoor nie.

Wil jy nie gou kyk nie, mompel ek, te bang om self te kyk.

Asseblief nie. Hy skud sy kop. Hy wil asseblief nie kyk nie.

Dan sal ek maar voel. Ek wil nie sien hoe dit lyk nie, maar ek moet weet.

Ek is gekoppel aan allerhande drade en pypies en goed, die bed se traliekante opgeslaan. Dit duur ʼn rukkie voordat my dowwe brein uitwerk hoe om my swaar, dom hand tot by my bors te laat navigeer. Toe daardie arm aan die beweeg kom, besef ek dat ook my regteroksel seer is. Dáár voel dit asof ʼn besete knaagdier sy honger gestil het aan my weefsel.

Die regterkant van my borskas is so plat en onskuldig soos dié van ʼn klein dogtertjie. Dis niks seer nie. Nie dáár waar ek vanoggend nog ʼn bors gehad het nie. Die vel daar is morsdood. Dis net die oksel en die borsbeen wat pyn.

Ek het ʼn mastektomie gehad, fluister ek vir hom, verlig dat die raaisel opgelos is. My regterbors is af.

Sy gesig vertrek en ʼn verskriklike hartseer gaan sit in sy oë. Dierbare man. “Ek is jammer,” sê hy en sy greep om my linkerhand is so styf dat dit seermaak. Ek klou dankbaar aan dáárdie seer vas en aan die gevoel van veiligheid wat sy hand my besorg. En toe slaap ek weer.

Met die volgende wakkerwordslag is ek alleen.

Dis donker in die saal en ek is alleen saam met een ander slapende vrou en ek het ʼn nood. ʼn Hengse een. Die pyn het nóg verminder, so ek sien kans om badkamer toe te gaan. Dis net die tralies om die bed wat my gaan kortwiek. Alleen sal ek nie kan regkom nie, al skree die hardkoppige en oordadig selfstandige Kaaskop/Duitser/Ier in my blou moord.

Ek lui maar die klokkie en die verpleegster stap minute later die vertrek in, laat sak die tralies en help my om orent te kom. Ek lig haar in van my voorneme om die badkamer te besoek en sy bied aan om my te vergesel.

Nee. Dankie, maar nee.

Dis tyd om die nuwe Madelein te ontmoet en dit wil ek graag op my eie doen.

Toe die verpleegster seker is ek gaan nie onverantwoordelike goed aanvang soos om neer te slaan nie, laat sy my toe om badkamer toe te stap en die deur agter my te sluit. Ek verlig my nood dankbaar, sit daarna vir ʼn hele ruk op die toilet met die lawwe blou teaterbroek om my knieë. Mens moet die saak seker maar eers bedink voordat jy die nuwe persoon in die oë kyk. Net ter voorbereiding.

My soektogte op Google het my ingelig dat vroue meen hulle vroulikheid is weg saam met hulle borste. Daar was treurmares oor hierdie ding van vroulikheid. Paragrawe vol. Hartseerstories. Dit breek mens se hart wanneer jy dit lees.

Ek is nog nie seker hoe ek oor die aangeleentheid voel nie.

Toe ek uiteindelik voor die spieël bokant die wasbak staan, kyk ek nie dadelik daarin nie. Ek voel senuagtig, soos ʼn vrou wat lanklaas ʼn afspraak met iemand gehad het en nou enige oomblik gaan sien hoe lyk haar blind date.

Ek staal myself en kyk.

My hare is deurmekaargewoel. My grimering is halfpad af. Ja, verdomp, ek het grimering aangehad teater toe en my hare was mooigemaak. Geen rede om nie mooi te lyk wanneer mens ʼn mastektomie ondergaan nie. Ek vryf met my linkervoorvinger die maskarahalfmane onder my oë weg en voel dadelik beter toe ek nie meer soos ʼn pandabeer lyk nie.

Tyd vir bestekopname.

My oë is steeds blou, my hare steeds blond. Ek lyk net soos die vorige dag. Die spieël is klein, so ek kan my spieëlbeeld net tot by my sleutelbene sien. Daarom sit ek my hand dáár. Liggies, want daar sit ʼn wond. Ek voel niks. Die vel daar is dood. In die spieël sien ek hoe my lippe vanmekaar beweeg. So, dis waar wat dokter Google gesê het. Ek sal nooit weer gevoel daar hê nie. Al die senuwees is weg.

Ek kyk af.

Ja.

ʼn Lekker groot hobbel waar leftie sit, die gesonde een van die tweeling, en ʼn kale vlakte waar rightie eens was. Ek maak my oë toe en laat my brein toe om te proe aan hierdie monumentale ding.

Ek glimlag effens toe ek weer in my oë kyk.

Kanker schmanker.

Ek is nog net soveel vrou soos voor die operasie. Ek vóél dit in elke atoom waaruit ek bestaan. My vroulikheid het toe al die tyd nie in my bors gesit nie. Dit sit in my kop, in my hart, in daardie onmeetbare, onaantasbare iets wat die gees genoem word.

So waar as wragtig. My vroulikheid is nie weg nie.

Nee, dit het herrys in triomfantelike hardegatgeit in die aangesig van ʼn doodmaaksiekte en ʼn skalpel.

Kanker schmanker, mense.

Kanker schmanker.