Hoofstuk 1

Die vrou se arms is bokant haar kop uitgestrek, haar gesig weggedraai van die kamera asof sy skaam is vir die toestand waarin sy is.

Sy lê gedrapeer oor ʼn hoop vuilgoed, haar aandrok hoog opgetrek teen haar bobene. Daar is geen teken van onderklere nie.

In die suide beur ʼn ry sipresbome teen die Bloemfonteinse winterwind wat die ou plastieksakke en tuinvullis teen die vrou se liggaam vasgewaai het. In die weste is die troostelose buitelyne van Suidpark-begraafplaas sigbaar. ʼn Menigte ashoopgrawers kan aan die ander kant van die geel misdaadtoneellint gesien word.

Die een hoëdefinisiekleurfoto na die ander vul die groot dataprojektorskerm in Malan & Coetsee Privaat Ondersoeke se konferensielokaal, geneem uit verskillende hoeke van die misdaadtoneel.

“Dit was nie die primêre toneel nie. Volgens die patoloog is sy na die sekondêre toneel geneem voordat rigor ingetree het. Daar is nie beserings aan die liggaam nie, wat daarop dui dat die oortreder haar tot op die ashoop gedra het. Sy is nie tot daar gesleep nie.”

Doktor Renata Malan sit haar elmboë op die konferensietafel se blink blad en stut haar ken in die kelk van haar hande. “Sy is weggegooi. Sy was vir hom niks meer as vullis nie.” Haar stem is sag. “Dis óf ʼn totale gebrek aan empatie en gewete óf ʼn doelbewuste handeling, een wat sê dat hierdie vrou niks meer werd is as die vuilgoed wat saam met haar op daardie ashoop lê nie.” Miskien is dit beide. In die forensiese sielkunde is daar gedurig verrassings, dit vind sy ná sewe jaar nog steeds uit.

“Wat ʼn fokker.” Stefan Coetsee sit aan die oorkant van die tafel, sy gesig grimmig. Enige geweldsmisdadiger is vir hom ʼn fokker, man of vrou.

“Inderdaad.”

“En dis hoekom jy met die grootste plesier die geweldsmisdade kan kry, kleinmuis,” sê hy en grynslag styf.

Sy glimlag vir die gebruik van die troetelnaam wat hy destyds in die kinderhuis vir haar gegee het. Hy noem haar net Renata as hy met haar wil baklei.

Nou frons hy. “Witboordjiemisdaad is miskien fokken vervelig, maar dit vat ten minste nie mens se eetlus weg nie. En mens voel nie jy wil ʼn shower gaan vat nadat jy die lêer gelees het nie.”

“Jy het jou deel met geweldsmisdaad gedoen in jou polisiedae, Stefan,” glimlag sy. “En geweldsmisdaad is miskien grusaam, maar ten minste wil mens nie aan die slaap raak terwyl jy die lêer lees nie.”

Jaun Tiquin sit aan die bopunt van die tafel by sy skootrekenaar. Hy druk uitdrukkingloos ʼn sleutel en nog ʼn foto verskyn op die skerm. Dit is ʼn ateljeefoto van ʼn lieflike swartkopvrou. Haar liggroen oë is speels en haar vol mond glimlag guitig. Dit is moeilik om haar te vereenselwig met die verweerde liggaam so tussen die vuilgoed op die ashoop.

“Die slagoffer se naam is Lee-Ann Muller. Sy was drie en twintig jaar oud ten tyde van haar dood ses maande gelede. Haar man, Jacques Muller, het moeg geraak vir die gebrek aan vordering met die saak en moles gemaak by die minister van polisie. Daarom het die SAPD ons gister om hulp genader. Hulle het nie daarvan gehou om dit te doen nie. Hulle gaan aan met die saak, business as usual, maar ons moet ons ding doen om die oortreder vas te trek. Ons word betaal, maar die SAPD kry die eer.”

“Jacques Muller,” wonder Stefan hardop. “Hoekom klink daai naam so bekend?” Hy woel sy hande deur sy dik bos donker hare en sug diep. Hy het weer begin rook. Net drie maande nadat hy vir die tweede keer getroud is. Teen hierdie tyd smag hy seker al daarna om buite te gaan staan en suig aan ʼn Camel.

“Want Jacques Muller is die eienaar van Muller Juweliers. Daar is takke in al die groot stede in die land. Die man is ʼn multimiljoenêr.” Tiquin kyk met opgetrekte wenkbroue na Stefan, asof hy wil vra of hy nou maar kan voortgaan. Hy geniet dit nie om onderbreek te word nie. Hy neem sy werk as kliënteskakel baie ernstig op. So ook sy rol as ontvangspersoon en intelligensieoffisier. Daar word nooit na hom as ʼn kuberkraker verwys nie, hoewel hy soms binne minute merkwaardige inligting kan optower. Inligting waarvoor mens gewoonlik hofbevele nodig het.

“Maar daai Muller is … wat? In sy sestigs?” Stefan mik sy frons in die rigting van Lee-Ann Muller se foto op die skerm en skud sy kop stadig. “Vroumense. Partykeer wonder ek oor vroumense.”


“Hy is ses en vyftig jaar oud. ʼn Baie jong en aantreklike ses en vyftig,” help Renata hom reg. “Ek het hom verlede April by ʼn liefdadigheidsgeleentheid gesien. Hy en die oorledene was toe nog nie getroud nie.”

Renata het gedink die man is van Italiaanse afkoms; die olyfkleurige vel, swart oë en hare plus ʼn egalige ry spierwit tande. Die lieflike, elegante vroue van die elite het soos ʼn swerm eksotiese vlinders om hom gehang. “As ek drie en twintig jaar oud was, sou ek hom ook wou hê. Al was hy nie skatryk nie.”

“Maar nou is jy al ʼn hele ses en dertig jaar oud en heeltemal te deurwinter om belang te stel in looks en geld,” grinnik Stefan en knipoog vir haar.

“Presies. Op my ouderdom stel mens meer belang in brandarm, gefolterde skilders wat bedags loodgieters is,” glimlag sy. Soveel redes waarom mense kies op wie hulle hul emosionele energie gaan vermors. Wat was byvoorbeeld Stefan se rede om met sy blonde floskoppie te trou? Jonk genoeg om sy dogter te wees, mooi genoeg om ʼn model te wees. Seker goeie redes vir ʼn warmbloedige man met geld en ʼn ruwe, ongeslypte soort aantreklikheid. Stefan is in sy veertigs. Is dit ʼn middeljarekrisis wat hom getref het, of is dit nog ʼn poging om geluk elders te vind omdat Renata nie beskikbaar is nie? Sy eerste huwelik het gefaal omdat dáárdie vrou nie vir hom ʼn Renata kon wees nie en Renata was nie van plan om die mooi wat tussen hulle is te bevark nie. Is nog steeds nie.

Tiquin kug gemaak, ooglopend ontevrede met die rigting waarin sy vergadering neig. “Kan ek nou maar aangaan, Dok? Met die vermoorde vrou se dinge, dalk?”

“Natuurlik, JT. Gaan voort.”

“Meneer Muller het sy vrou in Januarie as vermis aangemeld. Sy het daardie middag saam met hom middagete geniet by ʼn restaurant naby sy winkel en volgens hom sou sy daarna gimnasium toe gaan, gevolg deur ʼn aand uit saam met ʼn vriendin.” Tiquin druk weer ʼn sleutel en ʼn foto van die Mullers verskyn op die skerm.

Lee-Ann Muller was lenig en skraal, amper so lank soos haar man. Op die foto is haar swart hare glad en sy gloei van jeug en ʼn soort elektriese magnetisme. Jacques Muller se regterarm is oor haar skouer gedrapeer, sy kop gekantel sodat dit rus op daardie glansende donker hare. Hy lyk verlief. Sy lyk verlief op die lewe.

“Die oorledene was nie jou tipiese trophy wife nie, al was sy mooi genoeg om as een te kwalifiseer,” gaan Tiquin voort. “Sy het ná skool met ʼn beurs gaan swot. Arbeidsterapie. Prys gewen as die beste student in haar finale jaar.”

“So wat soek sy by ʼn ses en sestigjarige man? Is die slimmes ook agter geld aan?” wil Stephan weet.

“Ses en vyftig,” sê Renata werktuiglik. “Vertel ons van die nadoodse verslag, asseblief.”

Tiquin vou ʼn bruin kartonlêer oop. “Mevrou Muller is in die agterkop geskiet met ʼn .22-rewolwer.”

Renata frons. “ʼn Saturday night special. Daardie rewolwers is goedkoop en ammunisie daarvoor is ook spotgoedkoop en maklik verkrygbaar. Die probleem is dat dit nie veel stopkrag het nie. Enige moordenaar wat sy sout werd is, sal iets met meer oemf gebruik as hy behoorlik vooruit beplan. Was die moord dalk iets wat op die ingewing van die oomblik gedoen is? ʼn Passiemoord? Het hy die eerste die beste wapen gebruik wat in die omtrek was?”

Tiquin hou sy een hand in die lug en bestudeer die verslag. “Daar was skroei-en-stippelmerke rondom die ingangswond, wat natuurlik beteken hy het die wapen teen haar agterkop vasgedruk toe hy die sneller trek. Volgens die ballistiese verslag het hy ʼn holpuntkoeël gebruik. Omtrent vyf en veertig grein, so die ding het massiewe skade in haar brein aangerig.”

“Shit. Die normale .22-lading is nege en twintig grein. Hy het seker ʼn CCI-koeël gebruik. Morsig.” Stefan skud sy kop stadig. “Weet ons watse soort .22-rewolwer is gebruik?”

“Die ou by ballistics is glo ʼn wapenversamelaar. Hy het dié een maklik uitgeken.” Tiquin blaai om en lees: “Dis ʼn Colt Peacemaker single shot-rewolwer.”

Stefan knik. “Dis ʼn stokou gun met baie unieke striations. Enige versamelaar wat sy sout werd is, sal die ding kan uitken. Dis in die laat sestigs, vroeë sewentigs gemaak. Miskien is die fokker self ʼn versamelaar.”

“H’m. Dit kan dalk ʼn erfstuk wees.” Renata stut haar ken op haar vuis. “Wel, die feit dat dit ʼn kontakwond is, dui alreeds daarop dat hy wou seker maak hy wond haar nie net nie. Die swaar lading en die hol punt is dalk toevallig. Het ons die skets van die wond, JT?”

Tiquin knik sy kop en wend hom weer tot die skootrekenaar, verwissel foto’s en sketse totdat hy by die geskandeerde skets van die liggaam uitkom.

Renata stap nader aan die skerm, haar arms bors gevou en haar oë vasgenael op die sirkel wat die wond aandui. Die wond is in die pariëtale skedelbeen, daar waar die kroontjie sit. In haar geestesoog sien sy hoe die rewolwer se loop teen daardie glansende hare gedruk word, hoe die haan teruggetrek word en die vinger stywer span om die sneller. Dit was ʼn baie persoonlike ding.

Tiquin raadpleeg weer sy lêer. “Volgens die nadoodse verslag het die koeël met ʼn afwaartse trajek deur die pariëtale been gedring en ʼn wondbaan van ongeveer twee sentimeter deur die brein getonnel voordat dit gefragmenteer het.”

“H’m. Ek wonder of hy geweet het daar sal geen uitgangswond wees nie. Met ʼn holpuntkoeël gaan daar soveel kinetiese energie verlore, die kans is uiters gering dat die gesig sal deurloop onder ʼn uitgangswond. Wou hy hê sy moet mooi bly?” Renata draai na Tiquin. “Ek het geen onderklere aan haar lyf gesien nie. Ek neem aan sy is verkrag?”

Hy skud sy kop. “Volgens die verslag het sy twaalf uur voor haar dood gemeenskap gehad, maar daar was geen beserings wat dui op verkragting nie.”

“Die seks en haar dood is dalk nie verwant nie. Was daar enige semen?”

“Niks nie. Die ou het waarskynlik ʼn kondoom gebruik. En voor jy vra, daar was geen vesels of vel onder haar naels nie en wat vesels en ander bewysstukke op haar liggaam betref ...”

“Sy was vol sand en stof en as en vesels en allerhande ander goeters wat mens op ashope kry.” Stefan sug swaar en haal ʼn pakkie Camels uit sy hempsak. “Miskien is dit waarom hy haar op ʼn ashoop gaan gooi het. Nogal slim. Imagine hoe moeilik dit sal wees om tussen al daardie gemors en goed bewysstukke te kry.”

Renata knik. “Jy kan reg wees, Stefan. Het ons ʼn foto van die aandrok wat sy aangehad het, JT?”

In antwoord blaai Tiquin deur die beelde en stop by ʼn foto van die wit aandrok wat uitgesprei lê op ʼn staaltafel in die staatslykshuis. Dit is ʼn lang aandrok van wit satyn. Dun wit skouerbandjies en ʼn lang spleet links voor. ʼn Eenvoudige rok met ʼn klassieke snit.

Tiquin leun vorentoe en tuur na die skootrekenaar se skerm. “Dis asof sy op ʼn date gegaan het met iemand. Nice rok en als.”

“Dalk ʼn romantiese aand uit saam met haar man?” Stefan se gesig is hard. “Miskien het sy hom afgepis oor iets en toe skiet hy haar.”

“En die vreeslike bohaai oor die gebrek aan vordering is ʼn rookskerm om die aandag van hom af te lei? Om hom onskuldig te laat lyk?” Te oordeel na Tiquin se gesig hou hy van die teorie.


“Watse soort siek fokker skiet sy vrou en gaan dump haar op ʼn ashoop?” Stefan se standaard- retoriese vraag tydens vergaderings soos dié bevat gewoonlik die woorde “siek” en “fok”.

“Kom ons wag totdat ons meer weet voordat ons vir Jacques Muller laat opsluit, ” maan Renata. “Ek dink ons moet die saak neem.” Sy kyk om die beurt na die twee mans en glimlag vir hulle. Dit sal aangenaam wees om die wetter aan te keer wat vir Lee-Ann Muller in haar agterkop geskiet en haar toe gaan wegsmyt het.

“Daar kan dalk ʼn probleem wees.” Tiquin ontwyk haar oë, skielik baie besig met die verslag voor hom.

“JT? Komaan. Praat.”

“Die polisie dring daarop aan dat jy saam met hulle nuwe profileerder aan die saak werk.” Hy lig sy skouers verontskuldigend. Solank sy net nie dink hy het enigiets daarmee te doen gehad nie, sê daardie gebaar.

“Nuwe profileerder? Die een wat nie in staat was om enige vordering in die saak te help bewerkstellig nie? Nee, dankie. Ek werk alleen. Almal weet dit. Die polisie ook.”

“Dis hulle voorwaarde, Dok. Politics. Hulle het die ou ʼn paar maande terug op ʼn konsultasiebasis aangestel teen ʼn helse vergoeding en hulle is nie van plan om hom te laat leeglê nie. Die een of ander Amerikaner, dink ek.”

Renata maak haar oë toe, skud haar kop en haal diep asem. Nou moet dit nog ʼn Amerikaner ook wees. Sy maak haar oë oop en knik vir Tiquin. “Sê vir hulle ek stem in. Ek sal saam met hulle profileerder werk.” Daar is altyd maniere om die voorwaardes van ʼn samewerkingsooreenkoms te manipuleer.

Albei mans se koppe ruk op.

“Ekskuus?”

Stefan se gesigsuitdrukking wys hy sou dieselfde vraag gevra het as Tiquin hom nie voorgespring het nie.

“Jy het my gehoor. Kry asseblief vir my inligting oor die profileerder. Ek wil darem weet wie die vent is.” Dit kos niks om te sê sy sal saamwerk nie. Intussen gaan sy op haar manier aan. Sy sal die polisie gelukkig hou as hulle wil hê daar moet vergaderings wees, solank dit net nie te gereeld is nie, en sy sal haar vordering vir die konsultant aanstuur. Lee-Ann Muller se moordenaar hoort in ʼn hok. Agter tralies saam met diere soos hy. Politiek en ʼn weersin aan die arrogansie eie aan Amerikaners sal nie verhoed dat sy help om dit te laat gebeur nie.

Sy gaan staan langs Tiquin. “Grou vir my alles uit wat jy in die hande kan kry oor Jacques Muller en Lee-Ann. Fynste detail. Van nuuts af. Ignoreer eers die polisie se inligting en die profileerder se insette. Gooi die net wyd. Ek wil ook graag onderhoude gaan voer met vriende en naasbestaandes sodat ek die slagofferprofiel kan opstel. So gou as moontlik, asseblief. Die saak is vir te lank nou al onopgelos.”

“I’m on it, Dok.”

“Wel, die arme konsultant is in vir ʼn ding,” verklaar Stefan en staan op. “Die siel gaan óf gedodge word, óf hy gaan daagliks aan die verkeerde kant van Renata Malan se skerp tong wees omdat hy te stadig, te dom of te lui is.” Hy gee ʼn soort saluut en glimlag skeef. “Wees dan maar gegroet, liewe kollegas. Ek het ʼn nuwe vrou wat in ʼn frenzy van belustigheid wag op my tuiskoms.”

“Iets is nie lekker met Stefan nie,” sê Tiquin fronsend nadat Stefan die konferensievertrek verlaat het. “Hy doen sy bes om dit nie te wys nie, maar iets bug hom. Ek kan nie onthou dat ek hom al ooit so moody gesien het nie. En hy en die mooie jong Marinda is streng gesproke nog op honeymoon..”

“H’m,” is Renata se enigste kommentaar. Marinda het die emosionele intelligensie van ʼn plat klip. Stefan se optrede kan dalk daarmee verband hou. Dis ʼn groot jammerte dat hy nie langer met die meisie uitgegaan het voordat hy met haar getroud is nie. Ses maande is te kort.

Renata groet vir Tiquin en gaan haal haar skootrekenaar en handsak in haar groot kantoor. Toe sy die dubbele glasdeure van die kantoor bereik, klink Tiquin se stem agter die halfmaanvorminge ontvangstoonbank op waar hy in die halfdonker sit.

“Sy was mos dadelik dood, Dok. Toe die perp haar geskiet het.”

“Ja. Sy het nie eens geweet wat tref haar nie.”

“Ek hoop hy het haar onkant betrap. Dis die slagoffers se vrees voor die tyd wat my vang. Die paniek. Ek skrik party keer wakker uit nagmerries waarin ek hulle hoor pleit vir hulle lewe.”

Sy aarsel. Haar onderbewussyn martel haar ook met die slagoffers se vrees. En met die wete dat daar op hierdie oomblik iewers in die nag daar buite nog slagoffers is wat pleit vir genade en dit nie kry nie. “Nag, JT.”

Sy gaan klim in haar wit Mercedes en ry deur die halfskemer strate na haar huis toe, toegewikkel in ʼn rooi jas.

Bloemfontein is in Junie ʼn kaal, koue plek.

Die stad is haar hart se huis.

En iewers in die naderende donkerte is daar ʼn man wat Lee-Anne Muller doodgemaak en koelbloedig van daardie eens warm en lieflike liggaam ontslae geraak het. Hy kyk dalk nou televisie of drink ʼn bier saam met ʼn vriend. Dalk voel hy tevrede met homself. Gelukkig. Vir hom moet dit voel asof hy die perfekte moord gepleeg het.

By Renata se luukse wit huis bokant die afgrond in Heuwelsig gaan die sekuriteitsligte verblindend aan toe sy haar Mercedes-Benz by die oprit instuur.