Hoofstuk 1

Die muskus van seks meng met die dowwe geur van die vreemdeling se naskeermiddel. Vreemd aangenaam.

Renée Roux sit kruisbeen op die divan voor die komvenster, kaal behalwe vir die japon wat losweg om haar hang. Die sigaretrook is frank, maar dit verdoesel die smaak van die goedkoop rooiwyn wat sy gisteraand min of meer by die liter gedrink het.

Sy staar na die onbekende man op haar bed en probeer die kloppende hoofpyn ignoreer. Hy lyk ietwat jonger as sy, middel-dertigerjare as sy moet skat. Hy slaap byna soos ʼn kleuter, op sy regtersy met albei hande onder die kussing saamgevou. Selfs sy gesigsuitdrukking is dié van ʼn kind, iets byna buierig in die frons wat nou en dan op sy voorkop verskyn.

Xavier Weideman, psigiater ekstraordinêr, sal weer iets slims oor hierdie jongste eskapade te sê hê. Dis jou drang na aanvaarding wat maak dat jy onbekende jong mans huis toe neem, Renée, jou soeke na agting en goedkeuring. Dis gevaarlik, onverantwoordelik. Hy sou waarskynlik haar gemoedstabiliseerder se dosis wou verhoog as hy hiervan te hore moes kom. Sulke onverantwoordelike gedrag is die manifestasie van ʼn maniese episode, Renée. Aan en aan en aan, ad nauseam. Pedanties. Is alle psigiaters so pedanties? Herhaal almal van hulle die pasiënt se naam die hele tyd, of is dit net Xavier Weideman wat dit doen?

Die Bloemfonteinse oggendson bak deur die kantgordyn op haar rug en tog roer sy nie. Netnou word die man wakker as sy beweeg. Sy sal hom op sy naam moet noem en sy het nie die vaagste benul wat dit is nie. Die skaamte daarvan. Haar ma en Xavier. So verskriklik verskillend in hul menswees, maar albei so reg oor haar. Onverantwoordelik, Renée. Xavier se stem in haar kop. Sleg, swak, onaanvaarbaar. Haar ma se stem.

Dit is nie onaangenaam om na die vreemdeling te kyk nie, interessante skaduwees in die heuwels en dale van daardie ferm, gespierde liggaam. Maar hoe het dit gebeur dat hy in haar bed beland? Sy onthou sy gesig vaagweg, het tussen die tafels by Scarlet Room met hom gedans.

Kathy Gainsford, buurvrou, se assessering van hierdie episode sal anders as die psigiater sʼn wees. Sy sal die man een kyk gee en goedkeurend knik, waarskynlik sê dit was hoog tyd vir bietjie take-aways, siende dat Renée se sekslewe ʼn hele ruk terug al met ʼn geknars van ongeoliede ratte tot stilstand geskuur het.

Renée onthou newelagtige grepe van die seksdaad saam met die man. Sy wou slaap ná haar orgasme, onthou vaagweg die irritasie toe hy voortgaan om in haar te beweeg, seker om haar met sy uithouvermoë te probeer beïndruk. Hy moes self wel een of ander tyd gedurende die nag ʼn orgasme bereik het te oordeel na die klam kol waarop sy wakker geword het.

“Jy’s regtig iets besonders,” sê die vreemdeling in ʼn diep, lui stem en draai op sy rug. Uiteindelik wakker. Hy vryf oor sy oë en glimlag. Dis ʼn skoolseunglimlag. Waarskynlik goed geoefen en gemik daarop om te ontwapen en die hart warm te maak. Die hart en die lendene.

“Nee,” antwoord sy en beduie met ʼn vermanende vinger na die laken wat ʼn tent oor sy onderlyf maak. “Jy moet huis toe gaan. Dis al laat. Netnou soek jou ma na jou.”

Hy lag sag. “My ma gee nie meer om waar ek oorslaap nie. Sy het opgegee.”

Sy kom orent, vou die japon styf om haar. “Bly jy nog by haar? Hoe oud is jy dan? Twaalf?”

“Ek is so te sê veertig. Is dit ʼn probleem?” Die tent wikkel uitnodigend.

Hulle maak mans ook nie meer soos in die ou dae nie. “Ek moet werk,” sê Renée ferm. “Een van my kliënte gaan binnekort hier wees. Jy sal regtig moet gaan.”

Hy draai terug op sy regtersy, bestudeer haar belangstellend. “Watse werk doen jy?”

“Ek doen mense se belasting,” lieg sy. ʼn Mens vertel nie vir vreemdelinge jy gee voor om ʼn waarsêer te wees nie. Haar gekose beroep, as jy dit so kan noem, bring geld in. Oorgenoeg rede om te doen wat sy doen. ʼn Mens se trustfonds kan jou ook net so ver bring.

“Jy lyk nie soos ʼn belasting ghoeroe nie,” meen hy met ʼn skeefgedraaide kop.

Magtig, die man is mooi. Sy liggaam is haarloos, die sonbruin egalig oor daardie allemintige spiere. Waks hy of skeer hy? Sy skud haar kop om ontslae te raak van die begeerte wat lui in die kom van haar maag oopvou en loskrul. Fokus, Renée!

“Toe, daar gaan jy.” As sy net sy naam kan onthou. ʼn Mens kan bevele met soveel meer outoriteit uitdeel as jy die ander persoon op die naam kan noem. “Ek gaan stort. Die veiligheidshek se sleutel hang teen die muur in die gang. Hang dit net terug voor jy uitgaan.” Dit voel skielik asof ʼn hand haar keel toedruk. Sê nou maar hy neem die sleutel saam met hom? Hy sal enige tyd van die dag of nag kan inkom. “En trek die voordeur op knip wanneer jy uitgaan.” Sy begin kortasem voel van angs. Die antieke voordeur se slot besluit self wanneer hy wil werk en wanneer nie. “Totsiens, dan.”

Hy glimlag lui, sê niks nie, hou haar net dop terwyl sy klere uit die kas haal en koers kies in die rigting van die en suite badkamer. Sê nou maar hy is een van daardie varke wat vroue verlei en hulle dan in hul huise vermoor? Haar mond word droog. Sy glimlag koel vir hom met die uitstapslag, probeer selfgeldend en onoorwinlik en in beheer lyk. Sy gesigsuitdrukking verander nie. Hy lyk geamuseer en lus.

Dis die drank. Die verdomde drank. Nooit, ooit weer sit sy haar lippe aan die goed nie.

In die badkamer sit sy op die bad se rand, haar ore gespits vir geluide uit die slaapkamer. Daar is niks. Ongeduld gemeng met vrees laat haar lugweg verder toeklamp. Wetter. Janine Oosterhuis se afspraak is om tienuur en sy moet nog regmaak. Sy laat val die japon onwillig op die vloer en klim in die stort, probeer vergeefs om die storttoneel in Psycho uit haar kop te weer. Die badkamerdeur het nie ʼn sleutel gehad toe sy die ou huis koop nie en sy het nie die nodigheid daarvan gesien om die slot te vervang nie.

Sy hoor bewegings in die slaapkamer. Agter geslote ooglede sien sy hoe die man druipstert sy klere aantrek en koers kies voordeur toe. Hoe hy die veiligheidshek se sleutel nie saam met hom neem nie. Hoe hy die voordeur op knip trek agter hom en hoe die deur se slot vir ʼn verandering werk sodat hy nie agterkom dis ʼn inkomplek vir boosdoeners nie. Mag die gode gee dat sy hom nooit weer sien nie, dat die dronk seks vir hom so aaklig was dat hy Westdene en veral Brillstraat vir die res van sy lewe sal probeer mis ry om seker te maak dat hy haar nooit weer sien nie. Selfs nie eens per ongeluk nie.

Dit was nie ʼn drang na aanvaarding wat haar tot hierdie onverantwoordelikheid genoop het nie, besef sy. Nee. Aanvaarding is irrelevant. Dit was ʼn begeerte om ʼn orgasme te bereik, om te gee en te neem en vir ʼn paar oomblikke meer te wees as die somtotaal van wie sy is.

Dit is te laat om nou haar hare te was. Daar sal nie genoeg tyd wees om die dik bos rooi kartels droog te kry voor Janine Oosterhuis opdaag nie. Dankie tog vir die tulband. Sy smeer seep aan haar liggaam, spoel dit af en gee toe aan die versoeking om die lou water vir ʼn paar sekondes oor haar borste te laat stroom. Dit is toe sy haar hande op die krane sit om dit toe te draai dat die beweging na links haar oog vang en sy die man se skaduagtige figuur aan die ander kant van die stortdeur gewaar. Die gil word in haar keel doodgebore. Aanvallers is glo minder geneig om tot die daad oor te gaan as ʼn mens nie pateties lyk nie. Sy het dit iewers gelees. Lank gelede. Wat de hel het daar nog gestaan?

“Wat is dit?” probeer sy ongeduldig klink. Dit werk nie heeltemal nie. Sy kan die vrees in haar stem hoor.

Die stortdeur gaan sonder seremonie oop. Sy plaas haar hande op haar bobene om die littekens weg te steek. Laas nag was sy te dronk om om te gee, maar nou is sy nugter.

“Ek weet jy dink nie so nie, maar jy is regtig ʼn ongelooflike vrou,” sê die man glimlaggend, sy oë in hare. Hy is skielik by haar in die stort, sy hande op haar heupe en sy oë halfmas van begeerte.

“My kliënt is nou-nou hier,” sê sy sonder ʼn greintjie oortuiging in haar stem. Sy vol onderlip is suigbaar, sy liggaam warm en blink van die water en dis duidelik dat boosdoenery nou nie eintlik op sy agenda is nie. En hy is ouer as wat sy gedink het. Amper vier jaar ouer as sy, om die waarheid te sê, so die hele ding voel ʼn greintjie minder skandalig.

Hy trek haar saggies teen hom vas. “Ons kan gou maak as jy wil.” Terwyl hy haar lippe sag met syne oopterg, kelk hy sy hande met die grootste teerheid om haar gesig.

Janine Oosterhuis kan seker maar net ʼn bietjie wag, dink sy en laat gly haar hand tussen hul liggame in. Dis deel van die ervaring as hulle op die stoep moet staan en wag. “Baie gou,” maan sy en onderdruk ʼn kreun. Hy is so gereed. Sy draai om en vlei haarself teen die stortmuur aan, voel hoe hy baie geoefen sy posisie agter haar inneem en, met sy hande om haar borste gevou, doen wat ʼn bronstige man veronderstel is om met ʼn gewillige vrou in ʼn stort te doen.

Later, toe hy uit die stort klim, huiwer hy vir ʼn sekonde en draai terug. “O, my naam is Hermann,” sê hy, voordat hy uitklim. Aan die dowwe bewegings wat sy deur die geriffelde glas van die stortdeur kan sien, lyk dit asof hy hom aan die anderkant van die deur afdroog. Met haar handdoek. “Hermann met twee n’e,” sê hy ná ʼn rukkie. Daar is ʼn aarseling. “Dit was regtig great om jou te ontmoet, Renée. Maar jy moet versigtiger wees, meisie. Die wêreld is ʼn wandelende rioolplaas.”

Sy sink op die stortvloer neer, haar bene te bewerig om haar te dra. Ek is ʼn patetiese slet, dink sy. Iemand wat aan bipolêre depressie ly, soos ʼn kampioen lieg om geld te verdien en vreemde mans ná suipsessies spyker. Meer as een keer.

Haar ma is reg oor haar.

Hopelik is oom Ben van oorkant nie op sy stoep aan die moerkoffie drink nie. As hy die man hier sien uitstap sal hy dalk begin wonder of Renée werklik die oudste maagd in Bloemfontein is.