Mindie Rochebrandt is swanger met haar en advokaat Marius se eersgeborene – erfgenaam van die Rochebrandt-fortuin. Maar ná die onsmaaklike insident tydens haar ooievaarstee, die een waarheen háár mense nie genooi was nie, het Mindie besef sy moet ’n streep trek. Van Marius en sy buie het sy genoeg gehad, en ook van sy ma en die wie’s-wie op hul gastelys. Sodra sy geboorte geskenk het, gaan sy sak en pak trek en met haar kind ’n nuwe lewe op De Rust begin.

Enkele dae later bel Mindie se ma, Eona, hoogs beswaard. Mandelien, Mindie se tweelingsuster, ook swanger met haar en Sebastiaan se eersteling, antwoord nie haar oproepe nie. In Mandelien se meenthuis in Wilgehof kom Mindie af op ’n gruwelike toneel: In die klein badkamer lê haar suster se verminkte liggaam – uitgesprei soos ’n gevalle engel.

Wie verniel ’n swanger vrou en haar ongebore baba so wreedaardig? En hoekom? Mandelien was dan so ’n saggeaarde, liewe mens.

Siembamba, Madelein Rust se jongste roman, is ’n naelbyt-riller. Angswekkend, aksiebelaaid en propvol familiesages en onvoorspelbare intriges.