Monstersaad
“Monstersaad 'n lekkerleeservaring wat jou op die puntjie van jou stoel hou. Gebeure van die verlede en die hede word meesterlik saamgeweef. 'n Aanbeling vir enigeen wat 'n lekkerlees boek soek. (Goodreads)
“Monstersaad is ‘n boeiende boek uit die pen van ‘n vaardige verteller. Dit vergelyk uitstekend met enige oorsese boek wat ek al in hierdie genre gelees het ...” Ilse Zalzwedel.
Hoogs aanbeveelbaar, maar wees gewaarsku: jy gaan nie wil ophou lees tot die laaste bladsy nie! Ideale naweekleesstof.(Maroela Media)
Bloedlyn
Rust slaag daarin om die raaisel enduit te voed en die leser betrokke te hou in afwagting op die slot, wat ook puik geskryf is.(Litnet)
Moordhuis
“Moordhuis is om verskeie redes Rust se sterkste roman tot op hede. Eerstens is die verhaallyne – met die hoofondersoek wat die taboe op kindermoorde in fiksie breek, en fokus op die uiters grusame moord op die sewejarige Gainsford-tweeling in Bloemfontein – verwikkeld, intelligent, hoog in raaiselwaarde en uiteindelik sinvol bymekaargebring en opgelos.” Jonathan Amid (Rapport)
Rust se karakters is verwikkeld en eg menslik en word met knap dialoog uitgebeeld.(Litnet)
Die skrywer het die gawe om die leser sodanig te betrek by die verhaal, dat jy dit eerder beleef, as lees. Dit is met ’n gevoel van ontsetting dat ek die boek toemaak; dit is nie vergesogte verdigsel nie, dit kan gebeur, tewens, dit gebeur daagliks rondom ons.(Goodreads)
Lam ter slagting
“Wanneer sê 'n resensent 'n boek is briljant geskryf? Heel aan die begin is miskien die beste plek! Met Lam ter slagting – haar vyfde misdaadfiksie – het Rust haar eie grense verskuif.” Org Potgieter (Litnet)
Lam ter slagting resensie. Rust se woorde wipe en byt soos ‘n chilli popper. Rust is dodelik wanneer sy haar blik rig op die teelaarde van boosheid en brutaliteit.(Beeld)
Doodsengel
In die eerste plek is dit loshande die skrywer se mees geslaagde sielkundige riller – ‘n byna volmaakte pakket van ondraaglike spanning, oortuigende, geloofwaardige, driedimensionele karakters, opspraakwekkende tonele van geweld en vergelding, en ‘n verbluffende balans tussen intrige, raaiselwaarde, onthoubare hoof-en newekarakters en onheilspellende atmosfeer.(Netwerk 24)
‘Doodsengel’ is baie anders as die skryfster se vorige boeke. Ja, dis ook ‘n spanningsverhaal, maar dis ‘n vuis-in-die-maag tipe spanning. Pedofilie en gesinsgeweld is genoeg om enigiemand te ontstel, maar die mishandeling van verswaktes en bejaardes is dalk minder bekend - hierdie boek krap al bogenoemde oop. Sommige tonele is ontstellend, maar geheel en al gepas in die konteks en by die tema. Ek was met tye woedend en het begin wonder: is ek verhewe bo vigilantisme ? Ek dink nie so nie. En dis ‘n skrikwekkende gedagte. What does it take to destroy evil?(Goodreads)
Skakels
Die 13de kaart
Die skrywer en kritikus, Alta Cloete, sê oor Madelein Rust se debuut, Die 13de kaart: “Die verhaal lewe met ’n hele aantal interessante, oortuigende newekarakters wat menslikheid en egtheid in die milieu van wreedheid en moord indra.”
Rust het besonder simpatieke karakters ontwikkel, en hierby sluit ek newekarakters in, wat gou die leser emosioneel betrek.(Litnet)
Skakels
Kanker Schmanker
“Madelein span haar kennis van die sielkunde in om spanningsromans te skep, maar Kanker Schmanker, ’n outobiografie, is haar eie spanningsverhaal. Hierin laat sy die leser in haar binnekamer toe waar sy ’n intens persoonlike verhaal van lief en leed deel. Ek was aanvanklik versigtig om die eerste bladsy te lees, bang dat dit ’n neerdrukkende, hartseer verhaal (in ’n reeds so hartseer wêreld) gaan wees wat op my wag. Spoedig is ek verras deur Madelein se uitstekende manier van skryf; ’n ligte vertelling oor ’n ongelooflike swaar onderwerp. Sy neem jou op haar reis vanaf Dag 1 met die Groot K en ek as leser het maklik verlore geraak in hartseer, maar ook lighartige, geestige oomblikke soos sy deur haar emosies gewerk het om dié siekte die stryd aan te sê.” Yolanda Wessels (Litnet)
Madelein slaag daarin om wat ’n baie depressiewe, donker reis, vasgevang op papier, kon wees, te deel met haar gehoor, maar eerder verkies het om haar positiewe ingesteldheid weer te gee en dit ’n aangename leesreis te maak. Inteendeel, ek kon nie wag om saans die volgende paar hoofstukke te lees nie!(Litnet)
Haar eerlike vertellings laat die leser geensins onaangeraak nie – jy lag én huil. Sy neem jou wel saam op haar kankerreis, maar eintlik is die verhaal, in Elma Smit (TV-en radio-persoonlikheid) se woorde op die agterbladteks: “’n Moet-lees vir enigeen wat deur enige vorm van swaarkry gaan. Dit is immers ‘n boek van hoop en triomf.”(Maroela Media)
Die lyn tussen tragedie en komedie vervaag algaande soos Rust, die mens agter die naam, diep in jou hart kruip. Jy voel die tonele in die spreekkamer en die teater aan jou lyf. Die verhouding tussen Rust en haar man, die wipwarit wat elk ervaar, word eenvoudig lieflik en teer geskets. Hier is hoop, hier is houding, hier is ‘n omarming van lewensvreugde. Bravo, Madelein Rust, bravo!(Netwerk 24)
“Al die scenario’s is so aangrypend in die storielyn vervleg dat ek dit sterk oorweeg het om een oggend stokkies te draai by die werk om net die boek klaar te lees.” (Netwerk 24)
“Die leser word reg van die begin in Renata se lewe ingetrek en Rust se uitmuntende skryfstyl sorg vir heelwat naelbyt-oomblikke.” (Get it Pretoria Lifestyle)
“Hierdie roman is ʼn skalpel wat kundig en klinies tot in die verrotting van ʼn herkenbare samelewing sny, dog gerusstellend gemaklik in geregsdienaars en wetsverydelaars se koppie kan klim. Rust is dodelik wanneer sy haar blik rig op die teelaarde van boosheid en brutaliteit.” Jonathan Amid (Volksblad)
Siembamba
Siembamba: deur Madelein Rust: ’n lesersindruk
Irma Steffens Lesersindrukke2023-11-22
Titel: Siembamba
Skrywer: Madelein Rust
ISBN: 9780798183765
Uitgewer: Human & Rousseau
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Hoeveel boosheid skuil daar agter hierdie ooglopend onskuldige wiegeliedjie “Siembamba”?
Die agterplat dui nie verniet aan dat dit ’n aksiebelaaide naelbyt-riller is nie. Gooi solank vir jou ’n glas wyn in en hou sommer die bottel byderhand, want wanneer jy met hierdie leesavontuur begin, gaan jy beslis versterking nodig hê.
Madelein Rust tref die krimi-mark in 2014 met ’n bang toe Die 13de kaart op die winkelrakke verskyn. Chanette Paul sê nie verniet in die blip “staan eenkant toe Kathy Reichs, hier kom Madelein Rust” nie. Daarna is daar geen keer aan die geliefde skrywer nie en volg daar nog nege krimi’s uit haar pen. Sy skryf ook twee boeke oor haar stryd met kanker wat lesers inspireer en toerus met waardevolle inligting oor die pad vorentoe.
In Siembamba is Mindie Rochebrandt se lewe alles behalwe volmaak, al is sy met die skatryk advokaat Marius Rochebrandt IX getroud en tans swanger met Marius X. Reeds vroeg in haar huwelik vind sy uit dat sy eintlik net ’n inskiklike vertoonstuk, gewillige seksmaat en nou broeimasjien van die Rochebrandt-familie is – bl 18. ’n Onsmaaklike gebeurtenis tydens haar ooievaarstee laat haar finaal besluit om Marius, met die baie persoonlikheidsafwykings, te verlaat sodra haar baba gebore is. Ongelukkig is dinge nooit so maklik uitvoerbaar as wat dit op papier lyk nie.
Dae later word Mandelien, Mindie se swanger tweelingsuster, wreedaardig vermink en vermoor. Dadelik skuif Mindie haar planne opsy en begin haar eie speurwerk doen om die moordenaar van haar suster en dié se ongebore baba op te spoor. In die proses stel sy nie net haar eie lewe in gevaar nie, maar ook dié van haar ongebore baba. Die leser vergesel Mindie op ’n wipwa-rit van aksie en angswekkende gebeure.
Tydens die verloop van die verhaal word die spanning verlig deur addisionele storielyne, onder andere dié van Mindie se familie wat duidelik steeds aan die verkeerde kant van die treinspoor bly. Die Kelly-clan is rowwe diamante, maar hulle kruip nogal in ’n mens se hart in.
’n Welkome verandering is die skep van die dierekarakter Herr Wolfgang, die Weimaraner, wat pal aan Mindie se sy is. Die hond is ’n stille teenwoordigheid langs haar – bl 84. In teenstelling met sy paraatheid en heldhaftigheid is hy baie lief daarvoor om met sy gunstelingspeelding, ’n geel plastiese eendjie, in sy bek rond te loop. Maar wanneer Mindie se veiligheid bedreig word, verander hy in ’n oorlogsmasjien.
Madelein Rust slaag weer eens daarin om eg menslike karakters te skep waarmee die leser kan identifiseer. Sommige wek simpatie, ander haat jy met ’n passie en kan nie wag dat hulle hul moses teëkom nie. Die leser raak deel van die verhaal se intriges en word so ingetrek en meegesleur dat dit onmoontlik is om die boek neer te sit voordat jy die laaste keer omgeblaai het.
Die skrywer plant subtiele leidrade waarna die leser baie fyn moet oplet. Party is wel daar om die leser op ’n dwaalspoor te lei. Alhoewel ek later ’n vermoede gehad het wat aan’t broei is, was die wending aan die einde van die verhaal steeds ’n “wat de hel”-oomblik en kon ek die boek met ’n sug van tevredenheid neersit met die wete “eind goed, als goed”.
Enige Madelein Rust-liefhebber sal die boek verslind en krimi-lesers wat nog nie haar boeke onder oë gehad het nie, sal beslis die een geniet en ek glo daarna die winkels invaar op soek na nog leesstof uit die gewilde skrywer se pen.
Human & Rousseau se persverklaring beskryf Madelein Rust se nuutste boek as: “nog ’n bloedstollende riller stampvol aksie en spanning – soos net sý kan”. Die agterplat brei verder uit: “Siembamba is ’n naelbyt-riller. Angswekkend, aksiebelaaid en propvol familiesages en onvoorspelbare intriges.”
Terwyl ek rillers grootliks afgesweer het, is ’n Madelein Rust die één uitsondering. ’n Boek van hierdie skrywer kan ek nie weerstaan nie, al mag elkeen van die skrikwekkende woorde waarmee die roman beskryf word, dan ook een honderd persent in die kol wees. Ek kan, nadat ek dit gelees het, die lokteks beaam en ook daarby voeg: “blitsblaaier” en: “ek kon dit nie neersit nie.”
Mindie Rochebrandt is vasgevang in ’n huwelik met ’n man uit ’n vooraanstaande familie, almal fanaties oor ’n manlike erfgenaam vir die familiefortuin. Mindie is inderdaad swanger, maar beraam planne om te vlug met haar seuntjie omdat die lewe saam met Marius, wat vele persoonlikheidsafwykings toon, toenemend onhoudbaar word. Intussen is haar tweelingsussie ook swanger, maar sy word nóg ’n slagoffer van ’n reeksmoordenaar wat die stad teister.
Terwyl Mindie self ’n teiken mag wees, hou sy haar lyf speurder en haal keer op keer nuwe moeilikheid op die hals. Daar is ’n wye kring van randkarakters wat die sentrale storielyn ondersteun, elkeen in eie reg goed ontwikkel.
Die skrywer bied aan die leser heelparty moontlikhede wat betref die identiteit van die moordenaar, elkeen waarvan mettertyd blyk ’n dwaalspoor te wees waarlangs die polisie, en Mindie in haar persoonlike missie om van hulp te wees, vasval. Behalwe natuurlik wanneer die moordenaar die finale aanslag maak en sorg vir ’n situasie wat lyk of dit fataal gaan wees.
Ek kan dus hierdie spanningsverhaal met gerustheid aanbeveel, selfs vir sensitiewe lesers, want Madelein Rust slaag, soos in haar vorige boeke, om grusame detail op ’n manier aan te bied wat verteerbaar is, al wil jy jou naels begin knaag en slaap nie ’n opsie is nie.
Swanger, sweterige supervrou
LINZA DE JAGER is behoorlik die skrik op die lyf gejaag deur die skurk in Madelein Rust se jongste riller.
ANGELA TUCK
HIERDIE verhaal van ’n vroulike reeksmoordenaar wat swanger vroue jag en keisersnitte op hulle doen, het my hare laat regop staan. Madelein Rust se reeksmoordenaar is nou op my persoonlike lysie van monsters saam met wesens van Jo Nesbo, Patricia Cornwall en Thomas Harris. Gelukkig is Siembamba se heldin ’n vrou wat kan gatskop.
Die verhaal speel grootliks op die luukse Woodland Hills Wildlife Estate in Bloemfontein af. Mindie Rochebrandt en haar snobistiese man, Marius, bly hier in ’n glanskou van ’n huis. Hulle huwelik is liefdeloos, want eintlik soek Marius net ’n menslike broeikas. Danksy Marius is Mindie grootliks vervreemd van haar identiese tweelingsuster, Mandelien, wat, nes sy, swanger is.
Mindie se lewe verander onherroeplik wanneer Mandelien vermoor word. Sy ervaar iets soos ’n Rubicon-oomblik in die bloeddeurdrenkte badkamer waar sy afkom op die lyke van Mandelien en haar babaseun, wat uit haar lyf gesny is. Die polisie kan Mindie net met moeite van die toneel wegkry.
Sy wil hier wees op die plek waar haar tweeling se gees nog talm, en sy wil haar suster se kind teen haar hart vasdruk, reg bo die plek waar sy nefie onrustig tol en draai. Om jammer te sê. Oor en oor.
Die toneel is die einde van die platgetrapte Mindie.
Soos ’n feniks
Die karakter van Mindie is een van die grootste verrassings in Siembamba. Ek het glad nie verwag dat sy soos ’n feniks sou verrys nie, dat sy die guts sou hê om op haar eie ’n moordondersoek te doen. Sy is egter reeds ’n ruk lank in die geheim besig om skeiplanne te smee. Mindie se rebellie raak elke deel van haar lewe. Sy besluit byvoorbeeld om nie die sexy rok te dra wat Marius vir haar gekies het vir Mandelien se roudiens nie. Die hel bars hieroor los.
Marius staan met ’n uitgestrekte arm langs die bed, die silwer Ruger Redhawk 44-Magnum-rewolwer in sy hand. Die ekstra lang loop, oordadiglik gegraveer, is op die hond se maag gerig. “Trek aan wat ek vir jou gekoop het,” sê hy in ’n kalm, alledaagse stem. “Behalwe as jy wil hê ek moet die brak skiet. Glo my, ek sal jou elke druppel van sy bloed van my duur mat laat afwas voor ons ry."
Van hierdie oomblik af raak die onheil tasbaar in hulle huis. Mindie is bitter alleen. Sy kan natuurlik haar broers vra vir hulp, maar sy is bang om hulle te betrek. Al beskerming wat sy het, is Mandelien se hond, Herr Wolfgang, en Marius dreig om hom te vergiftig. Op hierdie punt moet ek erken dat ek tot aan die einde van die boek geblaai het om te sien wie gaan doodgaan. Ek wou myself voorberei op die ergste.
Tydens Mindie se ondersoek ontdek sy ’n ander sy van haar tweelingsuster se lewe. Sy ontdek dat Mandelien se man haar geslaan het. Op Mandelien se laptop kry sy ’n inskrywing oor haar verhouding met die afrigter van Herr Wolfgang.
Op ’n manier is die tweeling se lewens en vrot huwelike spieëlbeelde van mekaar. Marius is egter boser as Mandelien se man, want hy is boonop by mensehandel betrokke.
Rust bly die stresmeter opstoot deur die boek. Marius sluit Mindie in haar kamer toe. Hy saboteer haar Tazz sodat sy met die swart Mercedes moet ry, met sagteware wat verklap waar sy is. Sy word deur ’n minibusbestuurder agtervolg. Die lys is lank.
Wanneer Mindie uiteindelik besluit om van die estate te vlug, vererger dinge aansienlik. Sy vra vir Jeanette, wat voorgee om haar vriendin te wees, om ’n plek voor te stel waar sy en Herr Wolfgang veilig sal wees. Sy stap natuurlik in ’n lokval in, maar in hierdie stadium van die geveg is sy gelukkig nie meer ’n pushover nie.
Die plot het baie kinkels en ek wil nie alles verklap nie. Punt is, Mindie is alleen tuis in haar glanshuis wanneer Jeanette kom aanklop. Wat volg, is ’n toneel so reg uit Gladiator, met ’n strooisel galgehumor daarby.
Vir fans van misdaadfiksie sal Siembamba ’n lucky packet vol verrassings wees. Die heldin en die reeksmoordenaar is albei onvergeetlik; die tempo is deurgaans vinnig. Omgewing speel ook ’n rol. Hierdie Bloemfontein is glitzy aan die een kant en ’n jagveld van weerlose mense aan die ander kant.
Rust skep met Mindie ’n swanger, sweterige supervrou wat mens bybly.
Linza de Jager
Dit is selde dat ʼn boektitel – in bloedrooi letters – aangewend word om spanning te skep nog voordat ʼn enkele woord gelees is. Ons almal ken immers die laaste twee strofes van die bekende wiegeliedjie.
Die krimiskrywer Madelein Rust se jongste spanningsroman, Siembamba, borduur daarop voort, byvoorbeeld met hierdie amperse voorbodesin op bladsy 22: “Haar tweelingsuster se kraamverlof het pas begin en sy is fanaties daaroor om haar foon se battery gelaai te hou ingeval iets met die baba gebeur en sy ʼn ambulans moet laat kom.”
Hiermee delf Rust uit ʼn ander hoek as met haar vorige boek, Moederland, in dieselfde tema. Moederland speel nou wel in die toekoms af, maar daarin word ongebore kinders (wat sonder ʼn permit verwek is) ook doodgemaak.
Hierdie leser het daarvan gehou dat kapt. Jan Vorster nie die sentrale fokalisator is nie, maar dat die verhaal uit die hoek van ʼn familielid, Mindie Rochebrandt, vertel word. Dit dra by tot die spanning, veral omdat sy hoog swanger is en ʼn klousule in die Rochebrandt-testament verklaar dat slegs die manlike eersgeborene die Rochebrandt-fortuin kan erf.
Gregg Hurwitz het in sy boek Orphan X ʼn papegaai gebruik om die spanningslyn snaarstyf te trek. Rust doen iets soortgelyks met ʼn hond. Al wat sy nié doen om my te skok nie, is om lewendige kragdrade aan haar bladsye te koppel. Dit is ʼn vreesaanjaende spanningsroman met die klem – in hoofletters – op vrees en spanning.
Om seker te maak daar is genoeg skop in haar boek, behoort Mindie se eksgevangene-broer tot ʼn motorfietsbende en is haar man ʼn narsis.
ʼn Fyn krimileser sal die skuldige wel identifiseer, maar Rust se ervare hand skilder die ander karakters nog swarter om jou deurmekaar te maak. Siembamba is ʼn uitstekende voorbeeld van ʼn kitsduiwel aan die einde van die boek.
Met ʼn dosyn boeke agter haar naam is die skrywer uiteraard ʼn meester in milieuskepping, geloofwaardige dialoog, karakterisering en om die spanningstou galgstyf om die leser se keel te trek.
Die laaste boek wat my so koud laat staan het, was Sidney Gilroy se skrikwekkende Middernag.
Suid-Afrika was geseënd met ʼn besonderse krimi-jaar, maar volgende jaar, wanneer name vir die spanningspryse geïdentifiseer gaan word, is Siembamba een boek wat op almal se lippe gaan wees.
Stefaans Coetzee
Madelein Rust is steeds die meester van krimis! Kon die boek nie neersit nie en in 'n paar uur klaar gelees.
Nicky Bushby
Haar planne was fyn uitgewerk, die wegkruip-eiendom in De Rust was gekoop, geld is oor ‘n lang tydperk afgeknyp en eenkant gesit. Dis net die Mercedes wat nog verkoop moes word, dan sou Mindie gereed wees om Marius Rochebrandt IX en sy hele koninkryk te verlaat. Drie jaar van fisieke, verbale en emosionele mishandeling, gekombineerd met blatante ontrou en ‘n skoonma uit die hel, was genoeg. Maar toe word haar identiese tweelingsuster vermoor, deur ‘n moordenaar wat ‘n affiniteit vir swanger vrouens het. En Mindie is self swanger – met die erfgenaam van die Rochebrandt-fortuin.
Hierdie spanningsverhaal speel oor ‘n relatief kort tydperk, 6-25 Desember 2022, in en rondom Bloemfontein af en volg meer as een verhaallyn. Daar is natuurlik die ontrafeling van die moordenaar se identiteit en motief, maar, daarmee saam, ook Mindie se desperate pogings om van haar haglike huishoudelike omstandighede te ontsnap. Afkomstig uit ‘n nederige agtergrond van Joko-tee en Nescafe-koffie met Cremora eerder as peperduur ingevoerde produkte, word haar planne om die siklus van huishoudelike geweld te verbreek, telkens gekortwiek deur die reikwydte van haar skoonfamilie se finansiële tentakels.
‘n Interessante afwyking van die tradisionele speurverhaal is om ‘n swanger vrou, eerder as die stereotipiese speurder, as fokaliseerder aan te wend. Dit mag op die oog af na ‘n ongewone scenario lyk aangesien swangerskap dikwels met weerloosheid geassosieer word, maar Mindie is geen katjie om sonder handskoene gepak te word nie. Sy het ‘n vurige humeur en huiwer nie om bedreigings trompop te konfronteer nie. Haar liefde vir haar ongebore kind en die verlies van haar tweeling verskaf ook oortuigende motivering vir haar optredes en keuses.
Die spanningslyn(e) bly deurgaans snaarstyf, maar word ook met fyn humor afgewissel, die woordprentjie van ‘n aggressiewe hond met ‘n geel plastiekeendjie in die mond, ‘n vrou wie se oë in verskillende rigtings kyk, en ‘n melodramatiese moederfiguur wissel die spanning vermaaklik af.
Twee spesifieke tonele getuig van ‘n hoogstaande standaard van skryfwerk. Mindie se skok en trauma by die aansig van haar vermoorde suster word treffend verwoord deur haar afstandelikheid en gevoel van ontheemding terug na realiteit te ruk met die aanskoue van die voorkoms van iets so alledaags soos die borduurwerk op ‘n das, en ‘n grillerige storttoneel laat Norman Bates-rillings teen die ruggraat afkruip.
Mindie is ‘n waardige protagonis met wie die leser sterk genoeg kan identifiseer om werklik oor haar welstand begaan te word. Die slottoneel is derhalwe so bevredigend soos ‘n yskoue roomys op ‘n warm dag; welverdiende lafenis na al die spanning.
Anschen Conradie
Bessie se Hangkasbiblioteek
My eerste tjorretjie was ‘n bottelgroen 800cc Daewoo Matiz, genaamd Bessie. Maar sy moes nie vlak gekyk word nie, op ‘n dag wat die perde uitgebreek het, het ek twaalf kinders in haar gelaai gekry om te help. Formidabele dame.
Haar naamgenoot is net so. Bessie Botha se plot (oftewel kleinhoewe, afhangende van met wie jy praat) buite Bloemfontein huisves ‘n menigte siele, maar die hoofhuis is effens eensaam. Haar man, Stefaans, is oorlede, en haar broer, Willem, se epilepsie-swaard perk sy lewe drasties in. Snags, wanneer Maria na haar werksdag terug is by haar eie familie, wat ‘n gewelddadige eggenoot insluit, is Bessie alleen met haar herinneringe aan ‘n man wat haar vertroue in die liefde geskok het, ‘n ander man wat haar tot lewenslange boetedoening gedwing het, en die oneindige verlange na haar enigste kind wat te vroeg gesterf het.
In die daglig van 1974 is dit egter ‘n heel ander scenario; dan is onse Bessie se neus oral: die buurdogter, Annatjie, se flikflooiery met die treindrywers moet aangespreek word, dominee moet help met die kleine Adolfie wat die woordeskat van ‘n duiwel, maar die klavierhande van ‘n engel het, Maria se familiekrisisse moet dringend aandag kry, die dowe Klein-Jaap wat hoogstens “nogga-nogga” kan uitkry, moet gehelp word, en daar moet huis gehou word met die moeilike gaste: Ronald wat, blink van die medaljes, daagliks El Alamein herleef, en die snobistiese Valerie wat die plotlewe as antagonisties teenoor haar sensitiewe konstitusie ervaar.
Bessie se kuur vir alle probleme is te vinde in haar spaarkamer se hangkas. Anders as Tannie Maria van Ladismith wat eetgoed uitdeel, deel sy toepaslike boeke uit, maar waarsku telkens dat dit gelees én terugbesorg moet word. Ou gunstelinge soos Susanna M Lingua, Ena Murray, Audrey Blignault, James Hadley Chase, en Dricky Beukes, tesame met die gedaantes van Marius Weyers en Sandra Prinsloo wie se beelde sy op die inryteater se skerm deur haar venster kan sien, vestig die gees van die tyd waarin die roman afspeel.
Die humor wat voortspruit uit misverstande, kleindorpse ingesteldhede en die magdom diere, onder andere ‘n aggressiewe hoenderhaan. Klein Bliksem, die kraai, en ‘n dapper muis genaamd Plinius die Ouere, oorheers egter nie die verhaallyn nie. Ernstige temas word met deernis aangespreek: Die verwerping van ongehude moeders, die trauma van gesinsgeweld, depressie, selfdood, alkoholisme, armoede, huweliksontrou, apartheidswetgewing, en ongeneeslike siekte, word vernuftig ingeweef.
Skynheiligheid word ontmasker in geen onsekere terme nie: “Want as sulke mense hemel toe gaan, wil ek nie daar wees nie.” (253), en lewenswyshede word uitgedeel: “Moenie dat die pyn veroorsaak dat jy meer vir die dooie gee as vir die lewendes teenoor wie jy ‘n verantwoordelikheid het nie.” (201); deurentyd versag en verlig deur fyn humor, soos ‘n radio wat ter wille van fatsoenlikheid, harder gesit moet word nadat suksesvolle huweliksadvies uitgedeel is. (101)
Die saamstap op Bessie se onthoupad herroep die lief en leed van ‘n klein gemeenskap in die tyd van houtstowe, Valiants, inryteaters, aanmaakkoeldrank, tuisgebakte koekies, dikwielfietse, en laagwaterbruggies; die kortsigtigheid, veroordeling en naïwiteit wat daarmee saam gegaan het, maar ook die samehorigheid en onbaatsugtige naasteliefde.
Anschen Conradie
In Bessie se hangkasbiblioteek, delf Madelein Rust diep in haar grootwordjare en die herinneringe aan haar kuiers by haar ouma op die plot in Estoire, buite Bloemfontein. Dit is die jaar 1974, die tydsgees daarvan uitmuntend deur die skrywer vasgevang, die tyd van Valiants, Holdens, Morris Minors, inryteaters, Aga-stowe, radios en landlyne met individuele luitone.
Daar is al gesê dat hierdie roman herinner aan Koöperasiestories, maar ek het dit beleef as veel meer as ’n kontreiverhaal. Die raakvat van die pynlike sosiale kwessies, die geloofwaardigheid van die karakters, die kompleksiteite van verhoudings, die vreugdes maar ook die diepste hartseer en ontnugteringe, maak van hierdie boek een wat ek nie wou neersit voor die laaste bladsy nie.
In Bessie se spaarkamerhangkas kry sy raad vir elke krises, in die vorm van boeke wat sorgvuldig gekies word, altyd met die voorbehoud dat dit nie met vuil hande hanteer word nie, en moet terugkom op ’n bepaalde tyd. Annatjie kry ’n boek oor die feite van die lewe, die dominee, Alida en Valerie kry boeke wat hulle kortsigtigheid moet aanspreek. Ironies genoeg het dit nie noodwendig altyd die gevolg wat Bessie in haar voortvarentheid voorsien nie.
In ’n gesprek met Ilse Salzwedel wat op Netwerk24 beskikbaar is, deel Madelein interessante feite wat die verhaal lieflik inkleur, soos onder meer die inspirasie vir die karakter Adolf Hitler Rautenbach, oftewel Adolfie, die geniale klein musikant wat klassieke musiek op gehoor speel. Daar is ook meer inligting oor Willem, Bessie se broer, ’n pragtige karakter wat die uitdagings van epilepsie moet hanteer.
Hoewel daar heelwat komiese insidente is, moet dit saamgelees word met die ernstige temas wat soos in 1974, steeds relevant is. Gesinsgeweld, verkragting, alkoholisme, depressie, klasse- en rasseaangeleenthede, snobisme, om maar ’n paar te noem. Bessie het natuurlik nie raad vir elke sosiale probleem nie, maar haar geaardheid van omgee en regmaak wat verkeerd is, noop haar keer op keer om uit te reik, op tone te trap en soms verstommende resultate te kry.
Bessie se hangkasbiblioteek is volgens die skrywer, die hoogtepunt van haar skrywersloopbaan. Nadat ek dit verslind het, kan ek heeltemal verstaan waarom sy so voel. ’n Boek wat nie in ’n bepaalde genre-boksie gedruk kan word nie, een wat die skrywer uitgedaag het om weereens haar vermoë te toets om weg te beweeg van die rillers wat aanvanklik aan haar bekendheid en gewildheid besorg het. ’n Waardige toevoeging tot my versameling van Madelein Rust-boeke, perfek vir diegene wat nie hou van “blood and gore” nie.
Die roman is uitgegee deur Human & Rousseau, ’n druknaam van NB Uitgewers en is wyd beskikbaar, aanlyn en in goeie boekwinkels.
Amanda
Met Bessie se hangkasbiblioteek wys die produktiewe Madelein Rust daar steek veel meer in haar as net die gewilde krimi’s oor moeilike temas, soos kindermoord en pedofilie of outobiografiese niefiksieboeke oor haar reis met kanker soos Kanker schmanker (2019) en Van vrees na vrede (2023).
Rust het as kind op haar ouma Bessie Rautenbach se kleinhoewe gaan kuier en span dié herinneringe in om haar storie in die tydsgees van die 1970’s te vertel.
Die verhaal speel af in 1974 op ʼn kleinhoewe buite Bloemfontein waar die bemoeisieke weduwee Bessie Botha saam met haar broer Willem, ʼn vrygesel, boer. Dit is vir haar ʼn moeilike jaar, vererger deur die besoek sonder ʼn einddatum van haar oorlede man, Stefaans, se welgestelde broer, Ronald. Hy herleef telkens die tweede slag van El-Alamein en sy arrogante vrou, Valerie, wat die pl;attelandse lewe verag, vemoeilik sake vir Bessie en die werkers.
Die eerste paar hoofstukke lees amper soos kortverhale wat inmekaarskakel, maar as die poppe onder marionetmeester Rust se hande begin dans, jeuk die leser se vingers om uit te vind wat verder gebeur in die lewens van ʼn paar disfunksionele gesinne. Kry die boontjies hul loontjies?
Rust gee stadig maar seker wenke dat daar méér wag (bl. 48): “net toe ek dink ek het vergeet van daardie laatsomer van my verval.”
Bessie as eerstepersoonverteller beklemtoon haar bemoeisieke geaardheid. Sy huiwer nie om in te meng in ander se lewens as sy voel dis moreel geregverdig nie. Sy het ʼn hart vir mens en dier, wat elkeen ʼn naam kry: Plinius die muis, Klein Bliksem die kraai, Meneertjie die pou en Frederikkie die bokram. Tog sukkel sy om dieselfde deernis vir haarself te hê. Selfopgelegde skuldgevoelens ry haar.
Bessie steel die leser se hart wanneer sy besluit om die vroegryp Annatjie, was as 14-jarige meisie haar rok oplig om treindrywers te bekoor, met boeke op te voed en haar te leer waar babas vandaan kom.
Bessie se spaarkamerhangkas is vol boeke wat sy noukeurig kies en met humor en dikwels ongevraag uitdeel, of eerder opdring, aan diegene wat volgens haar ʼn les moet leer wat in ʼn spesifieke boek oorgedra word – van Susanna M. Lingua, Freda Linde, Ena Murray en Dricky Beukes tot Audrey Blignault en D.F. Malherbe se Saul die worstelheld.
Daar is ook die beelde van die akteurs Marius Weyers en Sandra Prinsloo wat Bessie deur haar venster op die3 skerm van die inryteater kan sien wat perfek pas by die tydsgees saam met karre soos ʼn Holden en ʼn Valiant. Enige persoon wat die 70’s beleef het, gaan die twee kortes en ʼn lange in die gang hoor lui.
Die karakters is uniek en kleurvol, elk met sy eie skadukolle wat danksy die opvattings op die plattelant, en streng vooroordele, volledig mens is. Die trant is lig en wissel gemaklik tussen humoristiese voorvalle met mens en dier en ernstige kwessies soos gesinsgeweld, nageboortedepressie, uiterste armoede, ontrouheid, tragedie, skuldgevoelens en siekte.
Die wanhoop van nageboortedepressie is egter wat die beste in hierdie boek uitgebeeld word, veral met Lauren Dickason se moord op haar drie dogtertjies nog vars in die geheue. Dit is noodsaaklik dat skrywers soos Rust wat behoorlik navorsing gedoen het, sulke ernstige siektes met noodlottige gevolge in fiksie blootlê. Wat ons lees, is Bessie wat inmeng op so ʼn manier dat die aanslag lig is, maar die erns van die saak beklemtoon word.
Tipies van die tydsgees was daar ook geweldige skynheiligheid en vooroordele op die platteland. Die kerk en predikant word ook nie gespaar nie, en die klip-Christene se manier van doen, laat jou kopknik. Apartheid en wetgewing oor dinge soos ontug, die doodstraf en aborsie, wat nou vreemd klink, was ʼn werklikheid wat ons beleef het en wat realisties in die daaglikse bestaan van die karakters ingewerk word.
ʼn Hinderlikheid deurgaans was die herhaaldelike beklemtoning van die werkers wat daardie jare name én vanne het. ʼn Keer of twee sou die boodskap beter oorgedra het, want daardie jare is werkers selde geag.
Die taalgebruik bekoor met sinne soos: “Staak nou jou hardkoppigheid, suster . . . As die water in die leivoor afkom en dis jou leibeurt, bou ʼn mens nie keerwalle nie.” (bl. 284).
Waardevolle lewenslesse word geleer, en perspektief oor dinge verander. Dit is lekker om ʼn paadjie te stap met sulke karakters.
Die verhaallyn is soepel en glad inmekaargevleg, die koeksister nooit stroperig nie, maar weldadig en bevredigend. Die hand wat misdaadfiksie so suksesvol kon skep, het al haar ervaring ingespan om 'n plesierige roman te skep wat jou laat lag, kwaad word vir koppige karakters, laat huil en met deernis toekyk op ontluikende vroulikheid. Tog het dit steeds al die kenmerke van Rust se vorige skryfwerk – die multidimensionele karakters is verwikkeld, menslik en oortuigend. Die spanningslyne laat jou net gou nóg ʼn hoofstuk lees. Moenie gebluf word deur die ligte aanslag nie – die temas sny diep en laat jou met ʼn bloederige hart.
Trisa Hugo
Hoe moet daar geskryf word oor ʼn tyd wat voel soos ʼn leeftyd gelede, maar tog net die ander dag was? Hoe klink Suid-Afrikaners in daardie tyd? Alle Suid-Afrikaners?
Onlangs begin ek ʼn nuwe Afrikaanse vrystelling lees, maar ek gee reeds op bladsy 6 op. Die dialoog van die een swart karakter wat in Afrikaans praat, laat my kriewel en ek wonder of ek as ʼn woke of ʼn libtard uitgekryt sal word omdat dit my pla.
Kort daarna begin ek Bessie se hangkasbiblioteek lees. Die boek begin in 1974 en eindig in vroeg 1975 en speel op kleinhoewes buite Bloemfontein af. ʼn Ander tyd, toe die kerk nog koning was, mense vinnig geoordeel het en daar ʼn definitiewe skeidslyn tussen Suid-Afrikaners was. Swart en wit, ryk en arm.
“Ek is Bessie Botha, née Hill. Deesdae die weduwee Botha, hoewel die nuwe naam nog nie lekker aan my sit nie. Die jaar 1974 was tot dusver in vele opsigte nie goed vir my nie. Maar dit erken ek net op donkerder dae, en ook net wanneer ek alleen is.”
Nou as dit die eerste paragraaf van ʼn boek is, kan jy nie anders as om boots and all ingesleep te word nie.
Bessie is 45 jaar oud. Soos genoem ʼn weduwee. Sy woon op ʼn kleinhoewe saam met haar ouer, ongetroude broer, Willem, wat as gevolg van sy gesondheid nie meer kan werk nie. Sommige mense in die distrik noem haar Mam “omdat ek soos ʼn moeder vir algar in die distrik is.” Bessie is lief vir diere, sy is ʼn getroue kerkganger, haar hart en haar beursie is oop vir dié wat dit nodig het en sy het ʼn geheim wat sy glo haar haar lewe lank gaan straf.
Elke hoofstuk in die boek van 289 bladsye het sy eie opskrif en reeds in hoofstuk 1 – “Die redding van Annatjie de Villiers” – besef die leser Bessie is iemand wat nie net ʼn moeder is vir almal nie, maar betrokke raak al word sy op ʼn punt ʼn bemoeisieke ou vrou genoem.
Daar is baie karakters, maar die leser sal kophou, want die skrywer, Madelein Rust, mag maar.
Terug by die storielyne. Daar is Bessie se skatryk swaer en sy jong vrou, Ronald en die vol strooi Valerie, wat van “die kontinent” kom kuier en nie lyk of hulle vinnig weer gaan vertrek nie. Dick en Alida de Villers, ware maplotters en Annatjie se ouers, wat nie die potensiaal in hulle dogter sien nie. Die ongehude ds, Versveld, wat sy kudde bymekaar probeer hou, en die winkelier Tony Adamos. Die ryk wewenaar Richard Gouws en sy pierewaaier-seun, Pieter. Sening en Elsie Rautenbach wat dit goedgedink het om hulle seun Adolf Hitler Rautenbach te doop en Adolfie wat ʼn geheim onder ʼn maatemmer wegsteek.
Ook die hippie Siobhan Murray, wat met haar jong seun en ʼn woonwa plek op Bessie se werf kom soek, en die aantreklike Rudolph Britz, want wat is ʼn romanse nou sonder ʼn aantreklike man wat ʼn barshou kan kyk?
Deur dit alles is daar die verhaal van Maria Borotha, wat saam met haar dogter, Selina, vir Bessie en Willem werk. Rust skryf hierdie karakters met deernis en ʼn intense begrip van die tyd en omstandighede. “Die kwaadwees en die lelik het my geëet tot ek iets vreesliks aan die man van my hart gedoen het, maar ek is nie jammer nie,” sê Maria in ʼn stadium. Outentiek sonder om kriewelrig te wees.
Bessie herinner op ʼn manier aan tannie Maria van Recipes for Love and Murder of Mma Percious Ramotswe van The No. 1 Ladies’ Detective Agency alhoewel hier nie moord, ʼn genre waarin Rust haar al deur en deur bewys het, ter sprake is nie. ʼn Lieflike volronde karakter wat ʼn boek as eerstepersoonsverteller kan dra met genoeg emosie en onverwagse humor. Bessie se hangkasbiblioteek is episodies geskryf en skreeu om, soos bogenoemde twee boeke, ʼn TV-reeks te word.
Daar is min kritiek. Die grootste is die einde wat te vinnig gekom het en ʼn hoofstuk of twee verdien om die tyd tussen die tragiese gebeurtenis in die vierde laaste hoofstuk en die einde meer lyf te gee.
Hierdie is ʼn lekkerleesboek wat hoog aanbeveel word vir lesers van romanses. En die hangkasbiblioteek? Lees en vind uit.
Ilza Roggeband