Proloog
Donderdag 12 Junie 2070, Xīn xiānggǎng – New Hong Kong, Suid-Afrika
Dit is die skielike lig wat Jenesis Baron in haar bed laat orent ruk. Sy suig haar asem oor haar gebarste lippe in en stut haar liggaam op haar elmboë. Om die een of ander rede is sy nie in Jericho Baron se herehuis nie. Daar is ’n baie goeie rede, maar haar kop voel te dom om te dink waarom, die uitputting soos ’n donker jas wat om haar hang.
Die gevoel van die warm lyfies wat in hul oorgroot doeke langs haar lê, laat haar onthou. In die donkerte en alleenheid van ’n nag sonder einde het sy geboorte geskenk aan die twee seuntjies. Vroeg, byna ’n week en ’n half vroeër as wat verwag is. Die kinders het roesrooi hare en elkeen het die byna onwaarneembare traanvormige geboortemerkie op die wang wat hulle merk as Adam Bormann se kinders.
Haar boodskappe na haar ouers en grootouers is nie beantwoord nie en daarom was dit tallose ure lank slegs sy en die pyn in hierdie kamer.
’n Skuifelgeluid na links laat haar kop omswaai.
Die vrees is onmiddellik en oorweldigend. Sy gryp die gladde tieroogsteen aan die kettinkie om haar nek en staar na die kaders wat soos klipbeelde in ’n halfsirkel om haar bed na haar staan en kyk, hulle NISS Vector-gewere voor die bors vasgehou. Hulle gesigsuitdrukkings sê niks. Dit vererger die angs honderdvoudig. Dit wat sy die meeste gevrees het, het liggaam gekry.
Sy trek haar knieë onder haar in, byt op haar tande om nie van die pyn uit te roep nie en trek agter haar rug die laken oor haar slapende kinders se koppe. Die kaders beweeg nie. Miskien was die gebaar ongesiens, soos sy gehoop het.
“Wat doen julle in my woonstel? Hoe het julle hier ingekom?”
Die kaders antwoord haar nie. Sy voel hulle oë op haar kaal skouers en die dun, nat lap van die rok wat sy netnou weggetrek het om haar kinders te voed. Haar natgeswete swart hare wat dig oor haar skouers hang bied effense beskerming teen die honger oë, maar nie veel nie.
Sy vou weer haar hand om die halfedelgesteente, los dit dan. Adam het gesê die tieroogsteen is dieselfde kleur as haar oë. Glimlaggend het hy haar ook vertel van legendes wat sê die steen weer boosheid af. Hy het toe al geweet van die versteekte kapel- onder die Barons se herehuis waar die gesin onwettig hulle Christelike geloof uitleef. Hy het saam met haar gelag oor haar familie se gewoonte om al hul nasate Bybelse name te gee as ’n soort stille revolusie teen die verbod op godsdiens.
Tog, hier staan boosheid vergestalt in die swart uniform van die Gewapende Magte by haar kamerdeur. Miskien was dit ’n sonde om te hoop die steen sal haar en hulle kinders werklik beskerm. Miskien moes sy nie die hangertjie geneem het nie.
Daar is ’n beroering onder die kaders. Die middelste twee staan eenkant toe om ’n lang man met bleekblou oë en blonde hare te laat inkom. Hy het ’n wit Amerikaanse gevegsbulhond by hom. Die dier lig sy massiewe kop en snuif die lug.
Daar is iets bekends aan die man.
Jenesis se oë daal onwillekeurig na die hond by hom. Is dit die stank van die bloed aan die lappe op die bedkassie wat die dier so wild aan sy ketting laat beur? Is dit die reuk van die bloed in die skottel water wat opgewonde tjankgeluide uit sy keel laat ontsnap, of is dit die feromone wat sy afskei wat hom so prikkel?
Die man pluk aan die ketting en die dier sak grond toe. Dit is nou net die hond se wilde oë en deinende bors wat sy opgewondenheid verraai.
“Wat doen julle hier in my woonstel?” Jenesis lig haar ken en staar na die man. “Ek wil weet hoe julle hier ingekom het. Hierdie eiendom behoort aan –”
“Ons is hier op ’n snuffeltog,” val die blonde man haar in die rede en tik met ’n lang wysvinger teen die kant van sy neus. Hy lyk effens verveeld, sy glimlag dun. Hy stap stadig na die bedkassie toe en lig die stapel bebloede lappe met sy knuppel op.
Jenesis voel die ongekoördineerde beweging van een van die seuntjies se armpies agter haar en maak vir ’n oomblik haar oë toe. Asseblief, maak dat hulle nie huil nie. Kinders wat sonder ’n permit in die lewe gebring word, word doodgemaak. Genadedood, noem hulle dit. Want daar is nie genoeg kos, water en blyplek vir almal nie, sê die regering.
Ma’s van sulke kinders word na die nuwe S17-tronk op Naval Hill gestuur. Almal weet die meeste gevangenes verlaat daardie tronk in die vorm van as, ongeag die duur van die vonnis. Daar is genoeg krematoria in hierdie nuwe Bloemfontein, of Xīn xiānggǎng, soos die regeringsamptenare die slimstad noem. Elkeen is gretig om te help wanneer S17 se krematorium te besig raak. Die verassing van ongewenstes bring geld in.
Die blonde man swaai om. “Skandeer haar,” beveel hy bruusk en druk die knuppel onder sy arm in. “Laat ons seker maak van ons feite.”
Een van die kaders, ’n jongetjie wat nog dons aan sy wange het, spring gretig vorentoe, sy skandeerder gereed in sy hand. “Regterhand, asseblief,” sê hy. Sy stem het nog nie eens gebreek nie. Sy van is Hennesy, sien Jenesis op die balkie wat aan sy swart hemp vasgespeld is. R. Hennesy. Kader. Het hy al gemoor?
“Nee,” sê Jenesis hees en druk albei haar hande agter haar rug in. Soos ’n stout kind, een wat ’n doodsonde gepleeg het. As hy die mikroskyfie in die web tussen haar duim en wysvinger skandeer, sal hy sien sy is Jericho Baron se enigste dogter. En dan sal hy weet daar moet ’n goeie rede wees waarom hierdie luukse slaapkamer vol bloed is. Sy kyk om haar rond, haar asem jaend. Alles hier dui op ’n lang, bloedige geboorte.
“Jy weet weerstand is nutteloos,” sê die kind in die uniform en wend ’n halfhartige poging aan om Jenesis se hand agter haar rug uit te trek.
Sy swaai om en probeer met haar linkerhand sy vingers loswikkel, krap sy hand en sy voorarm met al die krag wat sy oorhet, maar besef sy greep is te ferm vir haar. Die uitmergelende geboorte het haar krag getap. Dit is net die intense drang om haar kinders te beskerm wat haar nou aanvuur.
Die kader pluk sy hand weg en staar grootoog na die vier hale met bloedspikkels wat soos gebedekrale op sy hand en voorarm verskyn het. Nee, hy het waarskynlik nog nooit sy geweer se sneller getrek om ’n mens dood te skiet nie.
“Sukkel jy, Hennesy?” vra die blonde man sardonies. Hy is doenig met sy horlosie se sleutelbord. Die idee dat hy rustig staan en boodskappe stuur in haar uur van doodsangs, laat die woede in Jenesis opstaan.
“Nooit, generaal,” sê Hennesy vinnig ná ’n verwoestende blik na die laggende lede van sy seksie.
“Wag,” sê Jenesis en lig haar linkerwysvinger vir die jong kader, haar oë op die blondekopman en haar regterhand liggies op die bondeltjies lewe wat agter haar versteek lê. “Wag net eers. Generaal?” Die verwagting dat daar aan haar gehoor gegee sal word, sit in haar stem. Hennesy staak huiwerig sy poging om haar te skandeer toe hy die outoriteit daarin hoor.
Die man kyk op, sy oë leeg. “Generaal Ben Wagner tot jou diens.”
Die minister van die Gewapende Magte se enigste seun.
“Van wanneer af kom snuffel generaals ongenooid in hierdie sektor rond? Nogal ’n minister se seun. Word jy gestraf, generaal Wagner? Wat het jy verkeerd gedoen? Ek kan julle betaal om net anderkant toe te kyk. Ek was nooit hier nie. Jy en jou seksie was nooit hier nie. Geld is nie ’n kwessie nie.”
“Jy probeer my omkoop?” Die man gooi sy kop agteroor en lag uitbundig. “Vir mý?” Hy lag weer.
Woede so magtig soos ’n tornado lig sy kop binne-in Jenesis terwyl sy na die man se gladde bruingebrande keel kyk, sy adamsappel wippend terwyl hy vir haar lag. Wat het hy al aan sy volk hier in die nuwe Suid-Afrika gedoen om die Chinese en Russiese meerderheid in die parlement te oortuig dat hy sy rang werd is?
Hennesy sug hoorbaar voor hy afbuk om weer om haar regterhand te stoei. Dit kos nog twee kaders om hom te help voor die honger oog van die skandeerder uiteindelik skaars ’n sekonde lank sy rooi kolletjie op die web tussen haar regterduim en -wysvinger werp.
Die jong kader los haar hand asof dit hom gebrand het toe hy lees wat op die skerm staan.
Die generaal het van sy lagbui herstel. “Wel?” vra hy, sy bleekblou oë borend in Jenesis s’n.
“Sy is Jenesis Baron, generaal.” Hennesy se stem is hees. “Jericho Baron se enigste dogter.”
Almal in hierdie nuwe republiek ken vir Jericho Baron, die man wat ’n miljardêr geword het uit die verkoop van sy robotte. Eers plesierbotte vir mans wat nie meer die prostitute of hul koppelaars wou betaal nie. Later, toe die preutse nuwe regering die verkoop van plesierbotte verbied het, robotkaders en hommeltuigswerms vir die weermag wat nie kon voorbly om nuwe kaders vir die honger oorlogsmasjien op te lei nie. Hy is ’n belangrike man in die nuwe republiek.
“Maak dit regtig saak wie se dogter sy is?” Die generaal se stem is honend. “Dink ’n bietjie, Hennesy. Hier lê die enigste erfgenaam van die Baron-fortuin in ’n bed met bloedbesmeerde lakens.” Hy gee ’n tree na die stapel lappe op die kassie en beduie met sy knuppel daarna. “By haar is ’n stapel bebloede lappe.” Hy draai sy kop skeef en kyk na Jenesis. “ ’n Doodgewone bloedneus? Ek dink nie so nie. Te veel lappe wat so te sê deurweek is.” Hy rek sy nek en staar na die skottel met bloederige water en toe die skêr en bolletjie watte daarnaas, sy neus opgetrek. “Ek dink ’n geboorte het op hierdie plek plaasgevind. My pa het my heel onder laat begin, sien, so ek ken al die tekens.”
Asof die twee seuntjies die onheil in die bedompige lug kan aanvoel, begin hulle huil. Eers is daar sagte hikgeluidjies van agter Jenesis se rug en toe klanke soos die geblêr van twee lammers by die slagter se blok.
“Ha!” roep Wagner uitbundig uit en rek sy nek om agter Jenesis se rug te probeer sien. “Dit klink asof ons meer as een het!” sê hy. “Het sy ’n permit om kinders in die wêreld te bring? Is sy getroud?” Die generaal se stem is soos satyn, sy oë hongerig in Jenesis s’n.
Hennesy kyk weer na die skandeerder se skerm. “Nee, generaal. Op albei vrae.” Hy gee ’n paar treë na regs om van die ander kant af agter Jenesis in te loer. “Ja, dis twee babas, generaal. ’n Tweeling.”
Die kaders laat sak hul oë, kyk na mekaar van onder hul valhelms. Hulle weet wat kom.
“Laat die Medi-Bot inkom,” glimlag Wagner.
“Nee!” Jenesis se kreet is rou. Sy staar met albei haar hande oor haar mond na die deur, kan die servomeganismes van die robot hoor soos hy naderkom. Toe sy gedurende haar swangerskap uitvind dat haar pa hierdie monster vir die regering gebou het, was dit asof die suiwer goue draad wat pa en dogter in liefde aan mekaar gebind het, stadig uitgerafel het tot daar byna niks oor was nie.
Die soldate beweeg uit die pad toe die robot op sy twee tenkspore by die vertrek inkom.
Jericho Baron het vir hierdie een ’n sfeervormige kop met een oog gegee waardeur hoëdefinisievideo’s van elke genadedood geneem word. Vir argiefdoeleindes. Laat niemand sê die onskuldiges het gely nie. Die rooi kruis op die voorkant van die robot se reghoekige lyf glinster in die kamerlig, die reeksnommer daaronder aangebring. 82806. Jericho het nie eens probeer om hierdie reeks robotte vriendelik te laat lyk nie. Hulle is immers ontwerp om onskuldiges dood te maak en die bevolkingsgroei te beperk. Polisiemanne is blykbaar te swak van gees om onskuldiges uit te moor. Veral pasgeborenes. Wie sou kon dink dat soveel van hulle selfdood sou pleeg eerder as om babas soos diere uit te sit.
“Asseblief!” roep Jenesis uit. Sy strek haar arms weerskante van haar uit, ’n lewende skild wat die babas agter haar moet beskerm. Sy weet haar geswolle, natgeswete borste is so te sê ontbloot, maar sy gee nie om nie. Miskien sal die generaal en sy kaders besef sy is maar net ’n mens, net ’n vrou. Miskien sal hulle hierdie twee kinders spaar. Terwyl hierdie gedagtes deur haar kop flits, weet sy instinktief daar is geen uitkomkans nie.
Die Medi-Bot se ingeboude tafel ontvou geruisloos en klik in posisie, wagtend vir ’n slagoffer. Dis die ding van robotte: hulle steur hulle nie aan borste nie en genade is nie deel van hulle programmatuur nie.
Die babas huil harder. Dalk voel hulle haar vrees en wanhoop aan.
“Goed gedaan,” kom ’n skor stem van die deur af. Ben Wagner kom onmiddellik op aandag en sy seksie volg sy voorbeeld. Die minister van die Gewapende Magte kom uit die halfduister van die gang te voorskyn. Die sinistere klank van sy wandelstok gaan hom vooruit. Hy moes eens ’n aantreklike man gewees het, maar die regterkant van sy gesig is vol ou brandletsels. Sy oë is dieselfde kleur as sy seun s’n en hy het ’n grys bokbaardjie wat yl aan die regterkant van sy ken groei. Hy is waarskynlik die enigste lid van die elite wat nie sy gesig met plastiese chirurgie laat herstel het of vir hom ’n lewensgetroue kunsbeen laat maak het nie. Dis asof hy hom verlekker in mense se reaksie wanneer hulle hom vir die eerste keer sien.
Jenesis vou haar arms oor haar borste. Dit is nie ’n doodgewone artikel A137-genadedood hierdie nie. “Verskoon my dat ek nie opspring nie, minister,” sê sy sag.
Die ou man ignoreer haar. Hy plaas sy arm om sy seun se skouers. “Dit was ’n goeie operasie, van begin tot einde.”
“Dankie, minister,” sê Ben Wagner sonder om na sy pa te kyk.
“Maak die kinders dood, maar spaar haar,” sê die minister. “Haar pa moet onthou waartoe ek in staat is, maar ook dat ek genadig kan wees. Hy gaan nog van baie nut in die parlement wees. ’n Handpop,” sê hy en wikkel sy dik vingers. “Die hemel weet, ek het een nodig.”
“Moet asseblief nie . . . Wat het my pa hiermee te doen? Hy weet nie eens . . .” Jenesis bly stil toe die minister in sy spore omswaai.
“Jou pa is ’n lafaard, juffrou Baron. Dit . . .” en hy beduie na sy gesig, “is sy handewerk. My af been ook. Ek hou dit as ’n herinnering aan daardie dag. Dit gaan my wraak soveel soeter maak.”
“Watter dag?” waag sy fluisterend met ’n droë mond.
“Vra hom. Miskien het hy die moed, die inbors om jou te vertel.”
Die tikkie menslikheid, byna iets soos weemoed in sy stem, ontsteek ’n sprankie hoop in haar. “Minister, asseblief, my kinders is onskuldig. Ek sal hulle platteland toe neem . . . julle sal nooit weer van ons hoor nie –”
“Jy moes nie jou knieë so wyd gesprei het nie,” sê die ouer man met uitdrukkinglose oë. “Gelukkig vir my hét jy.” Hy tik met sy wandelstok op sy seun se skouer en verlaat die kamer.
Ben Wagner staan terug sodat die kaders en die Medi-Bot hul werk kan doen, weer doenig met sy horlosie. In hierdie nanag sal daar geen genade wees nie.
Jenesis staan op, vaagweg bewus van die pyn in haar onderlyf. Niemand sal hulle hande op haar kinders lê terwyl sy nog lewe nie. Die selfverdedigingsinstrukteur wat Jericho ná die burgeroorlog in 2059 vir die vroue in sy huis aangestel het, het hulle aangeraai om eerste met die sterkste aanvallers af te reken. “Terwyl jy nog nie moeg is nie,” het hy gesê.
Die grote met die harde oë sak op sy een knie af toe haar regtervoet sy geslagsdele tref, sy hande daar bakgemaak terwyl hy soos ʼn dier bulk. Twee ander volg voordat hulle die geleentheid het om hul geslagsdele te beskerm. Hennesy vou ineen toe haar hand hom onder sy solar pleksus tref, sy mond gapend asof daar geen suurstof in die lug is nie. Nog een steier agtertoe, albei hande om sy nek gevou nadat sy hom met haar gepunte vingers op sy strot geslaan het.
Die gezoem in haar ore word harder, is meteens oorverdowend. Sy skud haar kop stadig en voel hoe sy op een been neersak, nie by magte om haar liggaam te beheer nie. Die dowwe kolle voor haar oë word stelselmatig donkerder tot die duisternis haar oorweldig.
Sy word wakker met haar een wang op die dik mat van haar kamer, die ander onder die aanslag van ’n ritmiese geklap. Met haar arm probeer sy swak die hand wat haar so klap wegvee.
“A! Sy is wakker! Goed so! Ek wil hê sy moet sien wat die koste van onwettige seks is.” Ben Wagner se gesig huiwer langs haar. Hy kyk op na sy kaders. “Sit die eerste een op die Medi-Bot se tafel.”
“Nee! Asseblief, moenie!” Jenesis se stem is sag en hees, soos dié van ’n bang kind. Sy steek haar hand uit na die kader wat met een van die seuntjies na die Medi-Bot toe stap, maar dit val nutteloos op die mat neer. Sy maak haar oë toe, huilend, te swak om te skree.
“Wag,” sê die generaal en die kader stop in sy spore.
Jenesis se oë vlieg oop. Kan dit wees dat Ben Wagner sy pa se bevele gaan verontagsaam? Die ouman is immers nou weg. Sal daar genade wees op hierdie nag?
Wagner kelk sy hande om haar gesig terwyl hy met sy koue oë in hare staar. “Ek wil hê jy moet kyk. As jy weier, as jy jou oë vir net een oomblik toemaak, sal ek die ander kind vir my hond voer. Odin sal dit waardeer. Hy het nog nie vandag gevreet nie.”
Die histerie borrel in haar op tot dit voel of sy daaraan wil stik. “Asseblief!” fluister sy.
“Ek kan sien jy is swak. Ek sal jou help om jou kop in posisie te hou,” sê hy en gryp ’n bos van haar hare, lig haar kop daaraan op tot haar wang teen syne druk. Hy skuifel nader aan haar tot sy ereksie, kliphard en kloppend, teen haar arm druk. Sy asem kom vinnig, soos iemand wat te lank en te ver gehardloop het.
En Jenesis kyk, dankbaar vir die trane wat haar oë so wasig maak dat sy nie behoorlik kan sien nie. Maar sy weet wat kom. Die regering versprei oorgenoeg video’s van wat met onwettige babas gebeur. Dit is verpligte beeldmateriaal vir elke gesin, saam met die video’s van oënskynlik gelukkige werkers wat in die hidroponiese aanlegte kos produseer.
Sy hoor die singgeluid toe Medi-Bot 82806 se arm uit posisie beweeg en oplig na die tafel wat aan sy lyf gekoppel is, hoor die zoemgeluid toe die spuitnaald uit die ysterklou te voorskyn kom en die geborrel van die dodelike vloeistof wat iewers uit die dieptes van die robot se lyf opgetrek word.
Die staalarm klik weer in posisie en daal dan na benede. Vinnig, met ’n pikbeweging wat sy deur ’n waas van trane sien.
Jenesis sien hoe die groen lig op die robot se kop aangaan en weet wat die stilword van haar kind se stemmetjie beteken. Dit voel asof ’n stuk uit haar hart geruk word.
Hennesy se rug is na haar gekeer toe hy haar baba se liggaam van die robot se tafel verwyder om dit op die spieëltafel neer te sit, maar sy kan die kind in die spieël sien toe hy omdraai.
Agter hom neem die robot weer sy gereedheidsposisie in.
Die enigste klank in die vertrek is Jenesis se hygende snikke en die hond se opgewonde tjankgeluidjies.
Sekondes later tree Hennesy haar gesigsveld binne met haar ander seun argeloos in sy hande en die robot begin weer met sy gesang van die dood.
Sy is dankbaar toe die duisternis weer vir haar kom.
Daardie nag bestel Ben Wagner vir die eerste keer ’n prostituut met lang swart hare en bruin oë soos dié van Jenesis Baron, nie ’n blondine met blou oë soos gewoonlik nie. En later, toe die sekswerker bebloed en huilend vasgeketting aan die bed hang, snap hy dat die dogter van sy pa se grootste teenstander hom laat besef het wie hy, Ben Wagner, eintlik is. Wat hy is. As sy pa maar net weet hoeveel sy enigste seun na hom aard.
Die vrou begin yl skree toe hy weer die handskoen met die metaalpunte op die kneukels oor sy vuis trek en met afgemete treë bed toe stap. Hy sal hierdie laaste sessie so lank as moontlik uitrek. Miskien sal hy die vrou weer beveel om orale seks op hom toe te pas terwyl hy hom verbeel die bewegende kop oor sy bekken behoort aan Jenesis Baron.
Die hond tjank sag, opgewonde, en beur aan sy ketting daar waar hy aan die ander kant van die hemelbed se voetenent vasgemaak is.
Die reuk van bloed het hom nog altyd wild gemaak.