Die weduwee Bessie Botha woon saam met haar broer Willem op ’n kleinhoewe in Estoire buite Bloemfontein. Die jaar 1974 was tot dusver in vele opsigte nie goed vir haar nie en om alles te kroon is oorlede Stefaans se welgestelde broer en sy vrou op pad om te kom kuier.

Wanneer die veertienjarige Annatjie de Villiers weer een Sondag ná kerk langs die treinspoor staan en flikkers gooi vir al wat ’n spulse treindrywer is, besluit Bessie om die kind ’n boek in die hand te stop sodat sy kan leer waar babas vandaan kom. En dis daar waar haar annus horribilis begin. Benewens die drama wat saam met Annatjie en ook saam met Willem se epilepsie kom, is daar die terugkeer van die vrou wat Bessie se seun se dood veroorsaak het,

die ander dood reg onder hulle neuse, die weersiens van ʼn verbode liefde, die verdrinking in die spruit, liefde oor die kleurgrens en nog baie meer.

Bessie se hangkasbiblioteek is propvol heimwee en humor. Met uiteenlopende karakters so kleurryk soos die boeke in Bessie se spaarkamerhangkas.