Hoofstuk 1

In die dik, swaar stilte van Renata Malan se kantoor is net die sagte gesuis van die dataprojektor se waaier hoorbaar. Dit en die gedempte geluid van sagte, deurdringende reën op die teëldak. Die gerammel van donderweer het opgehou.

Sy is alleen. Haar vennoot en kinderhuisvriend Stefan Coetsee is lankal reeds huis toe en so ook Jaun Tiquin, Malan & Coetsee Privaat ondersoeke se inligtingsingenieur en kliënteskakel. Tiquin, beter bekend as JT, is die een wat onderhoude voer met potensiële kliënte; privaat persone en soms selfs die SAPD. Hy is ook die een wat agtergrondinligting aan Renata en Stefan voorlê sodat hulle kan besluit of hulle ʼn saak gaan aanvaar.

Vroeër vandag het sy nog ʼn saak gesluit. ʼn Reeksverkragter slaap vanaand in ʼn sel by Parkweg-polisiestasie, waarskynlik met sy een oog oop. Daarom het hulle net ná vyf vanmiddag die gebruiklike whisky ter viering gedrink, voordat Coetsee en Tiquin die nat Bloemfonteinse strate aangedurf het op pad na hulle blyplekke.

Soos haar gewoonte is nadat sy ʼn oortreder aangekeer het, laat sy haarself vanaand weer toe om in allenigheid te delf in die doen en late van die een misdadiger wat die verloop van haar lewe bepaal het. Nog steeds bepaal, as sy eerlik moet wees.

Die geskandeerde foto’s en koerantberigte is weggesteek in ʼn lêer op haar skootrekenaar,ʼn lêer wat sy “resepte” noem. Die inhoud daarvan is haar skande sowel as haar grootste vrees.

Stefan weet net die nodigste van haar bloedige verlede. As hy meer weet, is dit omdat hy ʼn vernuftige privaat speurder is. Tiquin weet niks. Niemand anders weet iets nie. Sy wil dit so hou.

Soos daardie vroegaand agtien jaar gelede toe sy uitgevind het wie haar pa werklik was, kan sy nie onaangeraak bly nie. Agtien jaar se delf in George Alfred Hill se moordtog kon die skerp kante van die afgryse, haat en selfhaat nog nie stomp maak nie. Sy het pas vir haar ʼn derde glas whisky ingeskink en ʼn sigaret aangesteek.

Sy druk enter op haar skootrekenaar se sleutelbord en ʼn ou koerantfoto van haar pa se eerste slagoffer verskyn op die Grandview-skerm teen die agterste muur van die groot kantoor. Dit is die tweede keer op hierdie stormagtige nag dat sy die foto’s bestudeer, groter as lewensgrootte.

Sy knipper haar oë om van die wasigheid ontslae te raak en suig die sigaretrook byna desperaat in.

Sy is gedaan. Vir die afgelope drie weke kon sy nie een nag vir langer as drie ure slaap nie. Nagmerries laat haar wakker ruk, misdaadtonele speel oor en oor in haar gedagtes af, bloed, skitterwit been wat uit donker wonde peul, oop monde, starende oë. Soveel geweld en boosheid. So min waardigheid. Dit word afgewissel deur drome waarin sy die moordenaar is wat haar pa se slagoffers doodmaak.

Sy asem diep in en weer uit, vestig haar moeë oë op die skerm.

Hill se eerste slagoffer was Marius Verwoerd Venter, die leier van die Seuns van God-kultus wat op die plaas Sonop in die Bloemfontein-distrik hulle basis gehad het. Op die aand van Vrydag die vyftiende Junie 1984 het Hill hierdie man met die welige baard en die swart oë in ʼn mielieland op die plaas laat kniel en hom toe in die kop geskiet met ʼn .22-rewolwer. Daarna het hy dieselfde met Venter se vrou gedoen. Maria Elizabeth Venter, ʼn mooi donkerkopvrou en ma van twee kleuterdogtertjies. Sy is op haar sy gekry, haar uitgestrekte regterhand sentimeters van haar man se linkerhand.

Enter. Volgende.

Nog ʼn man en vrou. Die foto’s van ʼn gryskopman en ʼn plomp rooikopvrou verskyn op die skerm. Sy het kuiltjies in haar wange, kuiltjies en ʼn versameling sproete op elke wang. Hy het fronsplooie gehad en welige wangbaarde.

Op Saterdag die sestiende Junie 1984 het hy hierdie twee kultuslede op Sonop ingewag. Die Smits was pas terug van die polisiestasie waar hulle ondervra is oor die Venters se moord toe haar pa hulle in die oprit na die plaasopstal verras het. Albei liggame is om elfuur daardie oggend langs hulle Chevrolet Impala gekry, Stefanus Smit nog in ʼn knielende posisie met sy gesig teen die kar se deur aangedruk, Lenie Smit sowat honderd meter daarvandaan in die veld. Sy het probeer weghardloop. Hulle vier jong dogters was in die huis en het hulle in die badkamer toegesluit toe hulle die eerste skoot hoor klap.

Enter.

ʼn Troufoto verskyn op die skerm. Die blondekopvrou troon bokant haar maer donkerkopman met die groot adamsappel uit. Hulle lyk gelukkig, die vrou bloesend en die man fier in sy strepiespak.

Renata tik die as af in vanmiddag se leë koffiebeker en laat sak haar kop agteroor teen die stoel se kopstut.

Dit was waarskynlik in daardie stadium wat die kultuslede besef het daar word jag gemaak op hulle.

Hill se volgende slagoffers was Frederik Postma en sy vrou Alana, ʼn kinderlose egpaar. Hulle liggame is om drieuur die middag van die sestiende Junie 1984 langs hulle ligblou Holden gekry. Dit was op ʼn verlate stuk pad tussen Lynchfield en die dorp. Albei het een koeëlwond in die kop gehad. Daar was twee tasse vol klere en ʼn oornagtas op die Holden se agtersitplek. Ook hulle was aan die vlug.

Renata neem ʼn groot sluk van die whisky. Sy voel net so nugter soos toe sy vroeër vanaand begin drink het.

Enter.

Op die sewentiende Junie van daardie selfde jaar het haar pa vir Dawid Veenstra en sy vrou Maureen in ʼn hotelkamer in Kimberley geskiet. Die posisie waarin hulle liggame gevind is, het spekulasies laat ontstaan dat hy hulle by die bed laat kniel het voordat hy elkeen in die agterkop geskiet het. Hierdie modus operandi is later bevestig deur die dogter van die kultus se sekretaris. Haar naam was Heila, ʼn dertienjarige donkerkopkind met lang vlegsels.

Enter.

Kultusmoorde: oorlewende praat, skree ʼn koerantopskrif in vet swart letters.

Daar is ʼn ateljeefoto van Heila en haar ouers, Jakob en Magdalena Hennop. Hulle glimlag vir die kamera, drie donkerkoppe met goudbruin oë. Op dieselfde bladsy is ʼn identikit van George Alfred Hill, gebaseer op ʼn beskrywing wat Heila Hennop vir die polisie gegee het. Dit is in hierdie berig wat die pers vir die eerste keer na haar pa verwys het as die Laksman.

Renata ken die meegaande berig asof sy dit self geskryf het. Die kind wat onder die bed weggekruip het toe sy ʼn geskree in die kombuis hoor, die Laksman wat die Hennops voor daardie selfde bed laat kniel en hulle beveel het om te bid om vergifnis vir hulle wandade. Die skoot wat Magdalena Hennop se pleitgebede stilgemaak het net nadat haar man gesterf het. Die Laksman wat onder die bed ingeloer het toe Heila haar snikke nie meer kon keer nie. Hy het lank na haar gekyk, toe orent gekom en doodluiters weggestap.

Renata ken elke slagoffer se gesig asof sy die een was wat hulle laat kniel en toe die rewolwer teen hulle agterkoppe gedruk en die sneller getrek het. Dit gebeur nou nog dat hulle in haar nagmerries op haar bed kom sit en met hulle dooie oë en bebloede gesigte na haar staar.

Enter.

Laksman in hegtenis, is die volgende koerantopskrif. Daar is ʼn foto van haar pa in ʼn bruin pak klere, sy blonde kop omlaag en sy hande in boeie. Twee strakgesigpolisiemanne begelei hom na die Hooggeregshof in Bloemfontein, met ʼn skare wat toekyk. Dit was ʼn voorbladberig in die Volksblad. Twee vroue hou ʼn plakkaat vas waarop daar in blokletters Hang hom! geskryf is.

Laksman se vader pleeg selfmoord ná moord op skoondogter, skree ʼn 18 Junie-voorbladberig. Haar pa was selfs in daardie stadium nie meer George Alfred Hill nie. Almal het hom bloot geken as die Laksman. Sy identiteit was onlosmaaklik vasgeknoop aan die moorde.

Sy sluk swaar. Hierdie berig was vol bespiegelinge oor waarom haar oupa haar ma vermoor het. Die vraag word gevra of die geneigdheid tot geweld familieel is. Die joernalis het haar stamboom nagevors; twee ander familielede aan vaderskant is voorheen skuldig bevind aan geweldsmisdaad. Guillaume Hill is in 1938 gevonnis tot twintig jaar gevangenisstraf nadat hy ʼn buurman met ʼn piksteel doodgeslaan het. Dit was glo tydens ʼn argument oor die hoeveelheid aandag wat die buurman aan Guillaume se vrou gegee het. In 1920 is Mariëtta (Hill) Botha gehang nadat sy haar gewelddadige man vier en veertig keer met ʼn mes gesteek het.

Enter.

Daar is ʼn koerantfoto van ʼn baie klein Renata langs ʼn graf, haar hand vasgeklem in dié van ʼn onbekende vrou. Op die foto kyk sy op na die vrou, haar oë geskreef teen ʼn waterige Junieson, bleek gesiggie vol verwarring. Haar swart hare was toe al heuplengte, al was sy net vyf jaar oud. In die agtergrond is ʼn menigte fotograwe sigbaar, kameras gerig op die Laksman se kind. Laksman se dogter by ma se graf, is die 22 Junie-opskrif. Sy het self nie meer die naam gehad wat op haar geboortesertifikaat staan nie, sy was bloot die Laksman se dogter. Hierdie berig was op bladsy vier van die Volksblad. Die Umkhonto we Sizwe-bomontploffing op 21 Junie by die substasie in Durban was op die voorblad daardie dag en ʼn opsomming van die MK-bomontploffings in 1984 het plek opgeneem op bladsye twee tot drie.

Enter.

Sy druk die sigaret dood.

Godsdienstige onverdraagsaamheid lei dalk tot ’84-kultusmoorde; ʼn 10 Februarie 1985-koerantopskrif op bladsy twee van die Volksblad. Daar volg ʼn beskrywing van George Hill se oordrewe streng Christelike opvoeding aan die knie van ʼn hardvogtige pa en hoe hy drie weke voor die Junie-moorde in 1984 die kultus by die polisie verkla het oor gewaande wanpraktyke. Die nuus oor die Laksman is op daardie dag oordonder deur Nelson Mandela se verwerping van staatspresident Botha se aanbod van voorwaardelike vrylating.

Die Laksman het eers weer voorbladspasie gekry toe hy ontsnap het ná sy skuldigbevinding.

Laksman ontsnap; SAP-optrede verdoem, is die hoofopskrif in die Volksblad op 27 Maart 1985. Daar is ʼn foto van ʼn vangwa wat met oop deure voor ʼn kafee op Ventersburg staan, daar waar die Laksman doodluiters uitgeklim en weggestap het terwyl die drie polisielede wat hom na Pretoria Sentraal vervoer het ʼn koeldrank in die kafee gestaan en drink het. Die Laksman is skuldig bevind aan tien aanklagte van moord en hy is ter dood veroordeel. Hy was veronderstel om in Die Pot in Pretoria Sentraal te wag vir die dag waarop hy gehang sou word. Hy het aangedui dat hy nie appèl sou aanteken nie.

Daar is gespekuleer dat die konstabel wat agterin die vangwa saam met die Laksman gesit het, nie die deure behoorlik gesluit het toe hy uitgeklim het om sy koeldrank te gaan drink nie. Vroeër het hy, teen regulasies, die gevangene se enkelboeie verwyder omdat dit glo die man se enkels stukkend geskaaf het. Al drie polisiemanne is ná ʼn baie kortstondige ondersoek skuldig bevind aan ernstige nalatigheid en ontslaan.

Renata druk die escape-sleutel en leun terug in haar diep leerstoel. George Hill is nooit aangekeer nie. Daar was spekulasies dat hy landuit is, dat hy met ʼn nuwe lewe in Suid-Amerika begin het. Daar was selfs ʼn berig dat iemand hom in Brasilië gesien het. Die polisie het later verkondig dat die berig vals was.

Niemand soek meer na hom nie. Dit is asof almal vergeet het van die tien mense wat in 1984 deur die Laksman vermoor is. Daar is ander moordenaars, ander prioriteite.

Dit is moontlik net sy wat onthou, net sy wat elkeen van haar oorwinnings vier met ʼn elektroniese reis deur George Hill se orgie van geweld.

Miskien is sy die enigste een vir wie dit belangrik is om te onthou.

Nadat sy haar toerusting afgeskakel het, hang sy haar handsak oor haar skouer en stap stadig deur die kantoorgebou om seker te maak alles is gesluit en afgeskakel.

Stefan Coetsee, kriminoloog en gewese kaptein in die SAPD, se groot kantoor is soos gewoonlik uiters netjies, die varing in die hoek van sy kantoor langs die ronde konferensietafel welig en blinkgroen van gesondheid. Dit is net sy lessenaar wat lyk asof ʼn moedswillige warrelwind alles wat daarop staan deurmekaar gewaai het. Dit is hier waar hy die sake ondersoek wat sy spesialiteit is: witboordjiemisdade en egskeidingsondersoeke. Sy is die een wat die geweldsmisdade hanteer, die een wat die slagoffer-en oortrederprofiele saamstel en dit dan gebruik om haar ondersoeke te lei.

Stefan is haar biegvader, die enigste mens op aarde wat sy onvoorwaardelik vertrou. Ná sy egskeiding vier jaar gelede het hy in ʼn eenslaapkamermeenthuis in Langenhovenpark ingetrek; Renata weet dat hy nog altyd meer vir haar omgegee het as wat noodwendig goed is vir hom. Sy vermoed dat sy huwelik misluk het omdat hy nie kans gesien het om ʼn leuen te leef saam met ʼn goeie vrou wat nooit vir hom ʼn Renata sou kon wees nie. Hy is te ordentlik om ooit met haar daaroor te praat.

Daar is vier leë kantore in die gebou; nie sy of Stefan doen veel moeite om hulle personeelkorps te laat groei nie. Malan & Coetsee privaat ondersoeke doen goed, dit is onnodig om te adverteer. Tevrede kliënte is die enigste advertensie wat hulle nog ooit nodig gehad het

Renata gaan staan voor die boogvormige ontvangstoonbank en kyk na die vier rekenaarskerms wat in blink gelid staan en wag vir Jaun Tiquin om hulle wonderbaarlike dinge te laat doen. Daar is niemand in die bedryf wat die vermoë het om inligting uit te snuffel soos hy nie. Hy het toegang tot ʼn verskeidenheid databasisse waartoe mense buite die polisie nie veronderstel is om toegang te hê nie en daaruit het sy databasisse gegroei. Hy het kontakte in die meeste staatsdepartemente en selfoondiensverskaffers en hulle is heeltemal bereid om beloon te word vir inligting uit die diep sakke van Malan & Coetsee privaat ondersoeke.

Sy diens by ontvangs was veronderstel om ʼn straf te wees. Nie een van die drie ontvangsdames wat sover aangestel is, kon Tiquin se puntenerigheid verduur nie; die koffie is te flou, te sterk, te koud; die e-pos is nie vinnig genoeg gestuur nie; die oproep is nie gou genoeg deurgesit nie; die kleinkas word wanbestuur.

Nadat die laaste ontvangsdame in die middel van ʼn Maandagoggend aan die einde van ʼn besige maand haar handsak vir goed gevat en uitgestap het, het Renata ontvangs-en kliënteskakelpligte by sy lang lys verantwoordelikhede gevoeg. Hy het dadelik ʼn ruimte-eeuse filterkoffiemasjien aangeskaf, die standaard-PABX vervang met “iets meer gesofistikeerd”, die toerusting in die konferensiekamer vervang met “iets meer in pas met Malan & Coetsee se standaarde” en toe sy rekenaartoerusting na ontvangs geskuif. Behalwe vir die feit dat hy sy linkerhand net so goed soos sy regterhand kan gebruik, kan hy baie aangenaam met kliënte onderhandel terwyl hy op twee sleutelborde werk om inligting uit twee verskillende databasisse op te diep.

Toe sy seker is alle toestelle is afgeskakel en alle vensters en deure gesluit, stap sy na waar die wit Mercedes-Benz E250 vir haar staan en wag. Die kar en die ultramoderne kantoorgebou is gekoop met die geld wat sy by haar aanneempa, Leon Malan, geërf het. Sy eiendomskoninkryk sorg baie goed vir haar, dit verseker dat sy en haar span net die beste toerusting het. Daar is immers misdadigers wat aangekeer moet word.

Dit is toe sy by die kantoorkompleks aan die buitewyke van die stad uitry dat sy in die truspieël sien hoe ʼn voertuig se ligte aangaan in die verlate straat. Die kar, ʼn swart ouer model BMW, volg haar op ʼn afstand totdat sy by haar huis in Heuwelsig se oprit inry. Die liggies wat die BMW se agterste nommerplate moet sigbaar maak, werk nie. Die kar ry stadig verby.

Haar tande is opmekaargeklem, haar hande spierwit op die stuurwiel.

Is sy bloot paranoïes, of word sy werklik agtervolg?

Is dit wraakgierige familie of vriende van een van die geweldenaars wat sy help wegbêre het wat probeer vasstel wat haar roetine is voordat hulle haar aanval?

Sy parkeer die Mercedes en stap in by die deur in die motorhuis wat toegang verleen tot haar tweeverdiepinghuis by die afgrond. Toe laat sy haar persoonlike beskermingshond, ʼn reuse- Duitse herdershond met die naam Ramsay, by die agterdeur inkom. Sy gee werktuiglik vir hom kos en water en sit vir ʼn oomblik met haar voorkop teen syne gedruk voordat sy vir hom die bevel gee hom te eet.

Deesdae het sy twee diere: Ramsay en ʼn kroes rondloperkat met ʼn gebreekte stert. Die kat het ʼn paar maande terug by haar huis opgedaag en van Ramsay se kos begin vreet, so maer dat sy nie geweet het hoe dit is dat hy nog leef nie. Ramsay het skewekop en met ʼn frons na die indringer gestaan en kyk.

Toe sy aan die kat probeer raak, het dié gesis en verwoed na haar gekap voordat hy weggehardloop het. Drie dae later was hy terug en toe was sy gereed. Sy het op die balkon voor haar kamervenster vir hom sagte katkos in ʼn poedingbakkie van fyn porselein gegee saam met ʼn bakkie vol water. ʼn Bakkie kos en water staan deesdae pal op die balkon, vir ingeval ʼn humeurige ou straatkat honger of dors word. Hy vergoed haar deur soms in die nag op haar bed te kom slaap en haar wit beddegoed vol hare en grond te mors. Sy mag egter nie aan hom raak nie. Dit is die soort wantroue wat sy verstaan.

Sy stap deur die huis en voel aan elke deur en venster om seker te maak alles is gesluit. Toe skakel sy die onderste vlak se alarmsisteem aan. Met Ramsay wat reeds op die matjie voor die bed vir haar lê en wag, sluit sy haar kamerdeur en skakel die boonste vlak se alarmsisteem aan. Dit is toe sy die gordyn wegtrek om die kamervenster oop te maak dat sy die sigaretkooltjie oorkant die straat in die donker kol onder ʼn boom sien, daar waar die straatlig nie kan bykom nie. Die kooltjie gloei vir ʼn oomblik helderder en beweeg dan afwaarts, asof die roker se hand nou langs sy lyf hang.

Dis niks, sê sy haarself. Dis een van die bure wat ʼn ent gaan stap het. Soms stap mense en gaan staan om te rook. Dis net toevallig dat dit voor haar huis aan die oorkant van die straat is. Die paranoia moet haar nie onderkry nie.

Sy skop haar skoene uit en gaan lê op die wit-op-wit geborduurde bed, haar Beretta Nano-pistool binne bereik van haar regterhand op die duvet.

Dit is toe sy die volgende oggend in die halfskemering met brandende oë na die plafon lê en staar dat sy dit aan haarself erken.

Normale, gesonde mense droom nie net van die dood nie. Hulle sien nie misdaadtonele en dooie mense agter hulle geslote ooglede terwyl hulle bid vir slaap nie, hulle herbeleef nie oomblikke van angs en doodsgevaar oor en oor en oor nie.

Normale mense skrik nie met ʼn kreet wakker van ʼn kat wat op die bed spring nie, hulle gryp nie ʼn pistool en swaai dit wild rond wanneer ʼn hond in sy slaap ʼn tjankgeluidjie maak nie.

Sy sit regop en kyk na die twee diere wat op hulle beurt vir haar sit en kyk, die Duitse herdershond met die topaaskleurige oë en die lelike bont straatkat met die gebreekte stert en die littekens oor sy snoet. Ramsay sit skewekop langs die bed, roerloos. Die kat sit op die voetenent van die bed, ewe roerloos.

“Oukei. Ek erken dit. Ek het hulp nodig,” fluister sy.