Hoofstuk 1

Die dood was makliker vir dié een.

Die moordenaar het haar só neergesit dat mens haar oë met die inkomslag kan sien. Haar oë en borste en die onskuldige wit boog van haar maag.

Belia kantel die afdruk sodat die honderd watt-lamplig dit met daglig kan verf en kry die vergrootglas weer in posisie. Terwyl sy vir die soveelste keer kyk na die statiese chaos en verskrikking van daardie misdaadtoneel, verwonder sy haar aan hoe ʼn foto kan lieg oor atmosfeer. Want dit was vreemd kalm in daardie kaia, ten spyte van die malende polisie en die krakende radio en die dooie kind met die tekens van haat en waansin aan haar kaal lyf.

Ure gelede het sy met balletjies wondergom ʼn foto van elkeen van die vorige moorde teen die witbord vasgesit. Sy staan styf-styf op en, met die foto van die laaste moord nog in haar hand, bestudeer sy die ry foto’s, elkeen met die slagoffer se naam in netjiese blokskrif bo-aan die foto.

Taxi, die bejaarde Duitse Herdershond, word wakker en volg haar met sy oë sonder om sy kop van sy pote af te lig. Hy sug diep en maak sy oë weer toe. Netnou, wanneer sy gaan koffie maak, sal hy vergeet van slaap en haar soos ʼn skaduwee volg, weet sy.

Die eerste slagoffer was Maria Bester, beter bekend as Madame Glaudine. Die fortuinvertelster se liggaam is in die karavaan gekry waar sy haar brood en botter verdien het; hande en voete vasgebind soos ʼn bok op pad na die slagpale. Omdat sy skoongewas is voordat die moordenaar haar op die tafel voor in die karavaan neergesit het, presenteer die meswonde bloot as reëlmatige lyne oor haar torso en maag. Dokter Charlene Jones se nadoodse verslag sê dat daar dertien wonde was. Op die foto is die gebarste are in haar oë nie sigbaar nie, maar die amptelike oorsaak van haar dood was versmoring. ʼn Plastieksak is waarskynlik oor haar kop getrek en diggehou totdat sy dood was, aldus Jones. Die punt van die opgerolde skets steek by haar oop mond uit. Dit was ʼn abstrakte pastelskets van ʼn vrou wat iets soos ʼn papirusrol in haar hand vashou.

Mathilde Beukes, ʼn middeljarige huisvrou, was volgende. Sy is op dieselfde manier vasgebind en versmoor, maar die skets in haar mond was dié van ʼn vrou omring van landerye en plantegroei. Die feit dat haar kaal liggaam in ʼn vrugteboord gekry is, is moontlik blote toeval, maar om die een of ander rede twyfel Belia. In haar werk speel toeval selde ʼn rol.

Slagoffer nommer drie was Veronica Laubscher. Die versmoring en nadoodse meswonde sowel as die manier waarop sy vasgebind is, was identies aan die vorige moorde; die skets dié van ʼn vrou wat ʼn kalbas in elke hand hou.

Sy plak die foto van die nuutste slagoffer langs die volkleurbeeltenis van die dooie Veronica Laubscher. Bo-aan die foto skryf sy in uitwisbare blou ink Naam??

Terwyl sy onsiende na die ry foto’s staar, vryf sy waar dit knaend in haar lae rug pyn. Vir ure het sy vooroorgebuk gesit en tuur na foto’s, sketse en verslae sonder om meer wys te word. Sy gaan druk ʼn Kiri Te Kanawa-kompakskyf in die Sony in die sitkamer voordat sy kombuis toe stap. Die hond agtervolg haar hoopvol, sy ore penorent en sy stert swaaiend. Die kas waar die hondebeskuitjies gebêre word, is een van sy gunstelingplekke in die huis.

Die deurklokkie lui toe die ketel ophou kook. Teen die tyd wat Belia by die voordeur kom, is die hond alreeds daar, snuffelend aan die oop spasie onder die deur terwyl hy fyn kermgeluidjies maak.

“Maak oop, vroumens, fuck it, I’m freezing my balls off out here,” kom ʼn ongeduldige manstem. “Dis ek, damn it, Jack.”

Asof enigiemand anders hierdie tyd van die nag by haar huis sal opdaag om haar te vertel dat dele van sy anatomie aan die afvries is.

Jack Butler. Dok Bell se mak Engelsman, het hulle hom in die ou dae genoem. Dit was Jack wat daarop aangedring het dat sy gekontrakteer word om te werk aan ʼn profiel toe hy op die eerste toneel tekens van ʼn ritualistiese moord herken het.

Nou hamer hy aan die deur asof hy doodseker wil maak dat almal in die buurt weet hy is hier. “Komaan!” brul hy.

Sy sug sag en oorweeg dit om doodeenvoudig terug te gaan kombuis toe. Dit is nog te moeilik om saam met hom te wees. Maar dis haar Afrikaner-ordentlikheid wat wen, eerder as ʼn begeerte om hom te sien of ʼn skielike dapperheid.

Hy druk by haar verby om in die hitte van die sitkamer te kom en ʼn ysige Bloemfonteinse Junie-wind agtervolg hom. Terwyl hy sy hande vryf, sidder hy teatraal en flits daardie wolweglimlag van hom in haar rigting. Egalige spierwit tande teen ʼn olyfkleur vel, lagplooitjies om sy oë. Die jare doen hom goed, dink sy teensinnig.

“Ek maak koffie. Kan ek vir jou ook maak?” vra sy baie hoflik.

Dit lyk nie asof haar stramheid hom opval nie. Sy mondhoeke beweeg afwaarts. “Is dit plastic koffie?”

“Ja, die ander is op.”

Hy blaas warm lug in sy hande. “Okay. Gee maar. Solank dit net warm is, sal dit seker die ding doen. Daar is nie dalk ʼn bietjie Old Brown-sjerrie in daardie kas langs die stoof nie?”

“Nee. Ek kom nie by die winkels uit nie. Jy kan bly wees hier is regte melk.”

“Ja, maar nou ken jy vir ou Jack, altyd optimisties,” grinnik hy. Toe buk hy en frommel Taxi se ore in sy twee groot hande.

Die hond maak sy oë op skrefies toe en lek luidrugtig oor sy lippe. As hy ʼn kat was, het hy gespin van lekkerte.

Belia glimlag onwillekeurig. Dis altyd goed om die twee saam te sien. Taxi mis ook vir Jack. “Jy sal moet werk vir jou drinkgoed,” lig sy hom in. “Die kaggelvuur is dood.”

“Okay, ek sal dit weer aan die gang kry. Sorg jy maar net dat ek my koffie vinnig kry. Maak dit sterk.” Hy onthou om “asseblief” te sê, maar net as nagedagte.

Terug in die kombuis skakel sy die ketel weer aan, meer om tyd te wen as enigiets anders. Met haar hande op haar heupe staan en kyk sy na haar weerkaatsing in die ketel se silwer lyf, die onwelkome blos op haar hoë wangbene, die lang vlasblonde vlegsel wat losgetorring ʼn kurwe oor haar skouer maak en die gloed wat in haar nek opgestu het. Haar lippe is opmekaar gepers en haar liggroen oë is donker van emosie. Jack Butler hoort nie hier nie. Nie in die nag nie. Beslis nie terwyl hy ʼn vrou het wat by die huis vir hom sit en wag nie.

Toe sy later met die twee stomende bekers by die sitkamer instap, het sy haarself weer onder beheer. Hulle werk saam aan ʼn saak. Dis al.

Jack sit op die mat voor die kaggel, sy rug teen die rooi stoel en Taxi uitgestrek langs sy bene. Hy het oudergewoonte die lig afgesit sodat dit net die nuwe vlammetjies in die kaggel is wat die vertrek verlig. As hy in kerslig kon leef, het hy.

Sy gaan sit kruisbeen op die mat langs die hond, albei hande om haar beker gevou vir hitte. Te laat besef sy dat dinge heeltemal te na is aan hoe dit in die ou dae was. Sy oorweeg dit vlugtig om op te staan. Om die lig aan te sit en op die stoel te gaan sit. Enigiets om die intimiteit uit te wis en nuwe bakens te vestig. ʼn Besoek van Jack Butler mag net oor besigheid gaan.

“En?” Hy kyk afwagtend na haar.

“En wat?”

“Die profiel. Vorder jy?”

Sy bepaal haar aandag by die koffie, effens afgehaal. Natuurlik gaan dit vir hom oor besigheid. Hy was die een wat haar gelos het, die een wat minder as ʼn jaar nadat hy hier uitgetrek het langs iemand anders voor die kansel gestaan het. Hoekom sou dit vir hom gaan oor enigiets anders as hierdie saak? “Ek het net die gewone goed, Jack. Miljoene mense pas in my profiel.”

“H’m. Kon jy vanoggend iets wys word uit die toneel?” Hy sit sy hand op Taxi se kop en dié steun tevrede.

“Niks nuuts oor die moordenaar nie. Behalwe dat hy atipies is in die sin dat hy die liggame op verskillende plekke los.”

“Ek dink dit gaan vir hom oor die skokwaarde. Hy stal die liggame uit op plekke waar mense hulle gou sal kry. Of waar die kontras skreiend is. Kyk nou hierdie geval: ʼn jong wit meisie in ʼn kaia op ʼn plot, kilometers en kilometers van die stad af.”

“Ja.” Sy frons. “Die ou vat kanse. Die werkers kon enige tyd teruggekom het na hulle blyplek toe. Hom op heterdaad daar betrap het.”

“Hy is gelukkig. Dinge werk net uit vir die fokker.”

Sy skud haar kop stadig. “Nee. Dit gaan nie oor gelukkig wees nie. Nie vir hom nie. Hy is deeglik en hy doen navorsing oor die plekke waar hy die lyke neersit. Hy neem intelligente risiko’s en dit maak hom anders as die gewone moordenaar waarmee ons te doen kry.”

“Miskien.” Hy sug. “Maar hierdie keer was op ander maniere ook anders.”

“Ja.”

Sy sit en luister na die geluide wat die hout maak terwyl die vuur vatplek kry, maar haar kop is terug in die kaia. Te veel dinge was anders. Die meisie is die eerste slagoffer wat doodgemaak is waar sy gekry is. Sy is doodgeslaan met ʼn stomp voorwerp en die moordenaar het dié keer nie die mes gebruik nie. Sy is die jongste slagoffer. Tot dusver, korrigeer sy haarself.

“Sy was nog maar ʼn kind, Bel,” verwoord Jack haar gedagtes.

“Sy was. Weet ons al wie sy is?”

“Nog nie.”

“Sy kom uit ʼn goeie huis, Jack. ʼn Familie met geld.”

Hy kyk vinnig op. “Wat laat jou so sê?”

“Sy’s baie goed versorg. French manicure. Highlights in die hare. Alles professioneel gedoen deur mense wat sakke vol geld vra. Hierdie girltjie het al vele kere die binnekant van ʼn duur salon gesien.”

“Nie een van die ander was juis tramps nie, Bel. Nie ryk nie, maar ook darem nie armlastig nie.” Met ʼn handgebaar maak hy haar opmerking af as irrelevant.

“Ek weet, maar hierdie een is in ʼn ander klas,” verduidelik sy met geoefende geduld. “Gewoonlik kies hierdie ouens slagoffers wat min of meer in een sosiale kategorie pas. Soos sekswerkers of bejaardes of middeljarige middelklas huisvroue. Hierdie ou doen dit nie.”

Sy oë vernou. “Dink jy dit is hoekom sy signature so anders was? Sy was mooi, jonk, uit ʼn goeie huis ...”

Sy skud haar kop beslis. “Nee. Ek dink hy het nog nie eens behoorlik begin nie. Die voltooiing van die ritueel is vir mense soos hy belangriker as enigiets anders. Iets moes hom gesteur het voor hy dit kon voltooi. Ek kan jou wed dit maak hom mal dat hy nie alles kon doen wat hy gewoonlik doen nie. Hy gaan waarskynlik volgende keer ʼn soortgelyke slagoffer kies en alles herhaal.”

Sy staan op en met die beker nog in haar hand, gaan haal sy ʼn paar van die foto’s uit die duplikaatdossier in die studeerkamer. Op pad terug na haar sitplek toe sit sy die Sony af. Kiri Te Kanawa se soet sopraanstem en foto’s van dood en verskrikking is swak pasmaats. “Kyk, daar is bitter min ooreenkomste met die ander moorde. As dit nie was vir die manier waarop hy haar vasgebind het nie, sou niemand geweet het ons het hier met dieselfde moordenaar te doen nie. Dit, en die skets, natuurlik.”

Sy hurk op die mat langs hom en pak foto’s van die eerste drie slagoffers voor hom uit. Toe tel sy die nabyskoot van die meisie se bloeddeurdrenkte hare op en gee dit vir hom aan. “Dis die eerste keer wat hy nie die slagoffer met ʼn sak versmoor nie, die eerste keer wat die oorsaak van dood koptrauma is. Die eerste keer wat daar geen meswonde is nie. En die skets was langs haar, nie in haar mond nie. Nee, hierdie ou was haastig om haar net dood te maak sodat hy kon verdwyn.” Sy lag saggies. “En ek is seker dit vreet die fokker op.”

“Dit lyk asof jy dit geniet.” Jack laat sak die foto en staar deur stormagtige oë na haar, sy lippe wit. “Ek verstaan jou nie, Bel.”

“Vergeet dit, Butler. Jy sal my nooit verstaan nie,” fluister sy en terwyl sy haar besig hou met die foto’s, ontwyk sy sorgvuldig oogkontak met hom. Reeds in daardie eerste saak sewe jaar terug, toe die SAPD die jong doktor Belia Bell uit radeloosheid ingeroep het om ʼn profiel van die Estoire-verkragter saam te stel, het sy die euforie ervaar. Eers het sy gedink die wilde vreugde was omdat sy die polisie ʼn misdadiger help aankeer het. Later moes sy aan haarself erken dat dit oor iets veel diepers gaan. Jack sou graag anders oor haar wou dink. Die feit dat hy gekies het om met die polisie se mediabeampte in Port Elizabeth te trou sê baie. Miskien is dié ʼn sensitiewe ou dingetjie wat verkies om misdadigers en boosheid net in die amper kliniese swart en wit van persverklarings te beleef.

Hy gee die foto vir haar terug.

“Hoekom hou jy aan met hierdie werk, Belia? Dis amper asof jy ... daardeur aangedraai word.”

Sy sug en sit die foto’s neer. “Ek is al so moeg vir hierdie argument van ons, Jack. Ek is ʼn dem goeie forensiese sielkundige en iemand moet die werk doen. Dit kan net so wel ek wees.” En terwyl sy hom antwoord, is sy kwaad vir haarself omdat sy haar probeer regverdig teenoor hom. Hy het nie meer die reg om hierdie soort vrae vir haar te vra nie.

“Maar hoekom juis jy? Daar is honderde ander goed gekwalifiseerde …”

Hy gaan dit nie daar laat nie, dit sien sy aan daardie streep wat sy lippe maak en die manier waarop hy sy kop kantel en haar aangluur.

“Want ek weet wat ek doen,” onderbreek sy hom. “En ek word goed betaal. Die alternatief is klasgee vir ʼn spul kinders met sterre in die oë by Kovsies en dit in sigself is regtig ʼn uitstekende rede. Kan ons nou asseblief aangaan met ons werk?” Sy laat toe dat die ongeduld in haar stem deurskemer. Hierdie argument is stokoud en daar kan net een uiteinde wees.

Hy laat sak sy kop agteroor en die spiere in sy kakebeen bult soos hy op sy tande byt. Die blik wat hy sekondes later in haar rigting stuur, is allesbehalwe vriendelik. “Goed dan. Gaan aan, Doktor.”

Sy lig haar ken. “Soos ek sê, hy sou met hierdie slagoffer dieselfde gedoen het as met die ander as hy nie onderbreek is nie. Hy sal hom nie laat afsit deur ʼn goeie manikuur en ʼn professionele dye job nie.”

“Verwag jy dat die skending gaan eskaleer? Dat hy miskien seks gaan begin inbring?”

“Eskalasie, ja. Seks … Ek twyfel. Daar is sover geen seksuele ondertone nie en die tonele is baie klinies, asof hy volgens vasgestelde riglyne werk. Wat hy wel doen, is om sy tegniek te vervolmaak. Mettertyd sal hy agterkom wat werk vir hom en wat werk nie so lekker nie. Wat mors sy tyd en wat maak dinge vir hom makliker. Hy sal op ander detail begin konsentreer namate sy selfvertroue toeneem.”

Jack vat ʼn groot sluk koffie. Frons. “Ons sal hom kry.”

“Ek is seker julle sal. Mettertyd. Maar julle het heelwat meer nodig voordat julle dit sal regkry. En ek benodig ongelukkig nog ʼn lyk, nog ʼn toneel, as ek julle meer van hom wil vertel.”

Sy reaksie is blitsig, sy oë skroeiend. “Wel dis goed om te sien jy is nog net so kil soos altyd, Belia. Party dinge verander nooit.”

“Ek werk met feite, Jack. Net soos destyds. Jammer as dit jou ontstel. Jy gaan seker nog steeds te werk volgens daardie befaamde gut instinct van jou. Baie wetenskaplik. Soos jy sê, party dinge verander nooit.” Sy sê dit koel, haar een wenkbrou gelig en haar kop gekantel. ʼn Stemmetjie in haar agterkop wil smalend by haar weet waarom sy so hard probeer om hom kwaad te maak.

“Alles hang nie van ʼn kopdokter af nie, Bel. Alle kriminele slip die een of ander tyd op. Goeie speurwerk is al wat werklik tel.”

“Ja, maar hoeveel gaan hy nog doodmaak voordat julle goeie speurwerk begin vrugte afwerp?” Interessant dat hy soos heel in die begin haar werk as irrelevant afmaak. Dalk is daar ook in sy agterkop ʼn stemmetjie wat nou vir hom vra waarom hy so hard probeer om haar kwaad te maak.

Hy laat sak die beker en gee haar ʼn lang, waarskuwende kyk. “Bel, ek wil nie hê jy moet weer so nou by ʼn ondersoek betrokke raak nie. Ek wil net ʼn profiel by jou hê.”

Sy trek haar skouers op en bestudeer die kaggelvuur. “Ek doen net my werk, Jack.”

“Kak.” Sy stem sny deur die stilte. “Jy doen my werk ook, en Charlene Jones sʼn, en as McFarlane nie so jaloers was op sy kameras nie, het jy syne ook gedoen.” Dit wil voorkom asof hy wel vanaand wil baklei.

Sy lig haar ken en maak met ʼn uitdrukkinglose gesig oogkontak; sy wil skielik nie meer saamspeel nie. Dit kan tog tot niks lei nie. “Die kolonel is gelukkig met die resultate, Jack. Hy gee nie om as ek so ʼn bietjie krap nie. Hy het self nou die dag vir my gesê solank ek nie ...”

“Dis net oor hy en jou pa destyds ...”

“Wat ook al, Jack. Kan ons dit nou los?”

“Jy is veronderstel om te sorg vir die profiel van die misdadiger, Belia. En soos wat ek verstaan, kan jy dit nie eens vir my gee nie.” Sy stem is laag en afgemete. “Miskien moet jy vir ʼn slag ophou rondfok en doen waarvoor jy so vreeslik goed betaal word.”

Sy staan op. “Ek dink jy moet nou gaan, Kaptein.” Sy kry dit reg om sy rang soos die een of ander besonder vieslike geslagsiekte te laat klink. Hy het te ver gegaan. Haar werk is haar eer, haar eerste prioriteit. Jack weet dit beter as enigiemand anders. Was dit dan nie dit wat hulle verhouding destyds gekelder het nie?

Hy staan op en sit die beker op die tafel neer. Die stilte tussen hulle groei. En skielik is sy groot hande op haar skouers. Haar hart ruk in haar bors. Dis nie goed as hy aan haar raak nie. Nie op hierdie manier nie.

“Ek is jammer, Bel.”

Sy kyk op in sy oë en sien dat hy die waarheid praat. Dit laat haar om die een of ander rede nie beter voel nie. “Dis laat. Jy moet gaan.”

“Dis net ... ek is … Fok, Belia, jy vat dit te ver! Dis gevaarlik daar buite!”

Sy pen hom vas met haar oë en gee ʼn geforseerde glimlag. “A, ek sien. Ek is skielik die dainty damsel in distress en jy is die groot, dapper ridder wat my moet red van al wat ʼn krimineel is en sommer van myself ook?”

Hy lag sag. “Niemand kan simpel genoeg wees om te dink jy’s ʼn dainty damsel in distress nie, Belia Bell. Jy is ʼn donnerse Viking.”

Sy knik. “Dan verstaan ons mekaar, Jack.”

Hy knik. “Ek glo so.” Sy oë gly honger oor haar gesig en huiwer op haar mond.

Sy kantel haar kop in die rigting van die deur, haar hart hamerend. “Toe, ek sal moet toesluit agter jou. Die Yale-slot werk nie meer nie.” Die spanning tussen hulle het skielik ʼn sensuele snykant wat haar van haar asem beroof.

Sy is klaarblyklik die enigste een wat dit voel. Hy gooi sy hande in die lug. “Laat dit regmaak, vroumens. Jy bly in ʼn stokou huis in ʼn gevaarlike deel van die stad. Dis amper asof jy op jou knieë staan en smeek dat iemand hier moet inbreek om jou aan te val en te beroof.”

Hy stap ewe gedwee uit in die ysige winternag nadat hy vir Taxi ʼn vinnige vryf oor die kop gegee het.

Die hond val met ʼn swaar sug op die mat neer en staar verwytend na Belia toe sy langs hom gaan staan. Sy ignoreer hom, sit die lig weer aan en begin die foto’s op ʼn hopie pak. Skielik is sy nie meer lus om te werk nie.

Dis eers heelwat later, toe sy in die stort staan, dat Belia haar gedagtes weer toelaat om hulle gang te gaan. Kopprentjies van die dooie meisiekind, hande en voete vasgebind soos ʼn bok, haar dowwe oë op die kaia se deur gerig. Die bloed wat in ʼn poel op die sanderige beesmisvloer lê en die koue verlatenheid op die jong gesig. Trane het tweelingspore getrek in die stof op die meisie se gesig. Sy was nog ʼn kind.

En Jack. Groot en viriel en sterk, hier by haar in haar huis soos in die ou dae, sy hande op haar skouers en sy oë donker van bekommernis. Die manier waarop haar hart aan die bons gegaan het by die geringste aanraking.

En sy onthou die tyd toe dit nog Belia en Jack was. Jack en Belia. Sy lyf teen hare, hande inmekaargestrengel bokant haar kop terwyl hy bo haar beweeg, die sagtheid in sy glimlag en in sy oë, die hitte van sy lyf ná die tyd as hulle regmaak om in te sluimer en hy haar in die holte van sy lyf intrek.

Sou hy en sy vrou liefde gemaak het vanaand? En lê sy nou met haar kop op sy bors en luister na die klop van sy hart in die hitte en veiligheid van sy lyf?

“Ek haat jou, Jack Butler,” fluister sy deur die water wat oor haar gesig stroom. “Ek haat jou.”

As sy dit genoeg sê, sal sy dit dalk kan begin glo.